Het Jesus ooit ‘n vrou gehad toe Hy op aarde was? En hoekom het hy nooit kinders gehad nie?

Deur Marianne van Zyl
Volgens al die ooggetuies wat vir ons Jesus se lewensverhaal neergeskryf het (Matteus, Markus, Lukas en Johannes wie se weergawes van die evangelie in die Bybel opgeteken is) klink dit nie of Jesus ooit ‘n vrou of kinders gehad het nie. Daar was al bewerings dat Jesus ‘n verhouding met Maria Magdalena gehad het, of selfs met haar getroud was. Dan Brown se boek “The Da Vinci Code” het ook hierdie idee probeer versprei. Dit sou natuurlik ‘n lekker sappige storie maak, soveel te meer as die kerk dit probeer “toesmeer” het soos Dan Brown wil beweer. Daar is egter geen goeie geskiedkundige bewyse vir hierdie “conspiracy theory” nie.

Hoewel dit nie algemeen was vir ‘n Joodse man in Jesus se tyd om nie te trou nie, was dit nie totaal en al ongehoord nie. Paulus, die groot sendeling van die vroeë kerk oor wie ons in Handelinge lees, was ook nooit getroud nie. Waarom het Jesus nie getrou en kinders gehad nie? Die Bybel gee nie vir ons ‘n rede nie. My raaiskoot sou wees dat dit óf sou “inmeng” met die primêre rede waarom Hy aarde toe moes kom (om die mens se verhouding met God te herstel deur ‘n perfekte lewe te kom lei en toe vir ons sondes te betaal), óf dat die vrou en kinders wat Hy sou hê dalk deur mense verafgod sou word en só die fokus van God sou aftrek.

Al het Jesus nie ‘n aardse bruid gehad het nie, leer die Bybel ons dat Hy wel ‘n bruid het, naamlik die kerk, dit is, die mense wat in Hom glo en aan Hom behoort (sien Efesiërs 5:23-27 en Openbaring 19:7-9).

Hoe kan mens 100% seker wees jy gaan hemel toe?

Deur Marianne van Zyl
‘n Mens kan seker wees dat jy hemel toe gaan! As jy hulle vra of hulle seker is hulle gaan hemel toe, sal baie Christene sê dat hulle 80% seker is. Die redes wat hulle daarvoor gee is dat hulle voel hulle doen nog soms sonde, of dat hulle verhouding met die Here nie perfek is nie, en daarom is hulle nie 100% seker nie. Dit is egter ‘n misverstand oor hoe ons in die hemel kom (sien die artikel wiehetgodgemaak.co.za/wat-bepaal-of-jy-hemel-of-hel-toe-gaan/). Die Bybel maak dit duidelik dat ons nie hemel toe gaan omdat ons goed genoeg is nie. Om die waarheid te sê, daar is NIEMAND op aarde wat ‘n perfekte verhouding met God het of nooit sonde doen nie. As dit dan nie ons is wat goed genoeg kan wees nie, hoe word mens se verhouding met God dan reggemaak?
Dit is as gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het en ons geloof in Hom wat ons kan hemel toe gaan. Efesiërs 2:8-9 sê “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.” En as ons dan in Hom glo kan ons 100% seker wees ons gaan hemel toe, omdat Hy ‘n perfekte lewe geleef het en betaal het vir al die foute wat ons maak (in die verlede, hede en toekoms). 1 Johannes 5:13 sê “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”
So wat beteken dit om in Jesus te glo? Dit beteken nie om net te glo dat Hy bestaan of bestaan het nie. Jakobus 2:19 sê dat die duiwels ook glo dat daar een God is, maar dit is nie in hulle geval ‘n reddende geloof nie. ‘n Reddende geloof is om al jou gewig, jou hele menswees, op Jesus te gooi, omdat jy glo dat Hy die Seun van God is wat vir jou sonde betaal het en wat opgestaan het uit die dood. Kolossense 1:4 in die Amplified Bybelvertaling definiëer geloof so: “For we have heard of your faith in Christ Jesus [the leaning of your entire human personality on Him in absolute trust and confidence in His power, wisdom, and goodness]. Dit beteken dat mens jou hele lewe aan Hom toevertrou en in ‘n verhouding met Hom tree. Daardie verhouding met Hom sal jou verander, dit sal ook vrug dra in jou lewe soos wat jy Hom al beter leer ken en meer soos Hy wil word. Dit beteken nie dat jy ooit perfek gaan wees nie. Dit beteken nie dat jy elke dag van die res van jou lewe 100% seker hoef te wees oor alles wat jy glo oor Hom of oor elke ding wat in die Bybel staan nie. Die krag waarmee Jesus jou red, hang nie af van hoe sterk JY glo nie, dit hang af van hoe sterk HY is, en Hy is verseker sterk genoeg om jou gewig te kan dra.

Dink so daaraan: jy val by ‘n krans af en is besig om na jou dood te tuimel en jy sien ‘n takkie in die rotswand uitsteek… Dit is nie jou gedagtes oor die tak of jou emosies oor die tak wat regtig saakmaak nie. Dit is of jy die tak gryp en die sterkte van die tak wat bepaal of jy gaan lewe of nie. Jy moet jou hande uitsteek en die tak gryp met alles in jou, anders help dit niks. As jy nie gryp nie hou jy aan val en as jy gryp is dit die eienskappe van die tak wat bepaal of jy lewe of nie. As dit ‘n swak tak is, maak dit nie saak hoe hard jy in hom glo nie, hy gaan in elk geval breek. Maar as jy die tak gryp al twyfel jy dalk of die tak jou gewig sal kan dra, sal die tak jou steeds red as hy sterk genoeg is. Dis hoe dit werk met God. Solank jy jou hande na Hom toe uitsteek, erken dat jy sonde in jou lewe het en dat jy Hom nodig het om jou te red, sal Hy jou kan red. Dit wat Jesus gedoen het is genoeg om te betaal vir enigiets wat jy al ooit verkeerd gedoen het of nog gaan doen, selfs al is jou geloof in Hom nie perfek nie.

Het jy al jou hande na God toe uitgesteek om jou te red? As jy nog nie het nie, doen dit vandag nog! As jy nog hieroor wil gesels of vandag hierdie besluit gemaak het om na God toe te draai, stuur gerus vir ons ‘n e-pos by wiehetgodgemaak@gmail.com

Wat bepaal of jy hemel of hel toe gaan?

Deur André en Marianne van Zyl
Hierdie is die heel belangrikste vraag wat mens ooit kan vra. Daar is oor die algemeen twee sienings oor hoe ‘n mens in die hemel kan kom.
Opsie 1: Baie gelowe, en baie mense, glo dat jy deur goeie dinge te doen, deur ‘n goeie lewe te lei, of deur net ‘n goeie mens te wees in die hemel kan kom. Die probleem met hierdie siening is dat ons almal foute maak en sonde doen (Romeine 3:23). Nie een van ons kom eers by die standaard van wat onsself sou sê is ‘n perfekte lewe nie. Gestel jy doen net drie dinge op ‘n dag verkeerd, beteken dit dat jy in een jaar van 365 dae 1095 sondes doen. As jy nou 17 jaar oud is, beteken dit dat jy al 17520 sondes gedoen het (as mens aanneem dat jy in die eerste jaar van jou lewe nog te jonk was om regtig te kan sondig). God is ‘n regverdige regter. As ons Hom vir ‘n oomblik met ‘n aardse regter kon vergelyk, sou mens kon vra, watter goeie regter sal ‘n misdadiger wat alreeds 17520 misdade gepleeg het net laat wegstap sonder om hom te straf? Die Bybel sê dat die straf op sonde die dood is (Romeine 6:23). Ons sien dus dat hierdie opsie nie ‘n werkbare opsie is om in die hemel te kom nie.

Opsie 2: Die Bybel leer vir ons dat God nie net regverdig is (aan mense gee wat hulle verdien) nie, maar ook genadig is (Hy gee eintlik aan ons goeie dinge wat ons nie verdien nie). Hy wil baie graag hê dat ons saam met Hom in die hemel moet wees (2 Petrus 3:9). Omdat Hy ook regverdig is kan Hy egter nie ons sonde net oorsien nie. Daarom het Hy vir Jesus gestuur om in ons plek die straf te dra vir ons sonde. Dit het Hy gedoen deur aan die kruis te sterf (1 Petrus 2:24; 2 Korintiërs 5:21). Wat moet ons dan nou doen om in die hemel te kom? “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (sien Handelinge 16:30-31). Ons word gered van die ewige dood (die hel) deur ons volle gewig op Jesus Christus te sit as die Een wat vir ons sondes betaal het, en deur te glo dat Hy die Seun van God is wat die dood oorwin het deur op te staan nadat Hy op aarde gesterf het. Johannes 3:16 sê “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Jesus self het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”(Johannes 14:6). Omdat ons onsself nie kon help nie, het God in Jesus ‘n mens geword en ons kom help. God het vir ons ‘n manier gegee om in die hemel te kom sonder dat ons perfekte lewens hoef te leef, omdat Hy weet dat niemand van ons dit kan regkry om perfek te wees nie. As jy dit nog nie gedoen het nie, neem vandag nog God se aanbod van die ewige lewe aan deur hierdie gebed opreg te bid:
Here, ek erken dat ek ‘n sondaar is en dat ek nodig het dat U my red van my sonde en van die dood. Ek glo dat Jesus ook vir my sonde betaal het toe Hy aan die kruis gesterf het. Ek glo dat Jesus u Seun is en dat U dit ook bewys het deur Hom uit die dood te laat opstaan. Ek aanvaar die geskenk van die ewige lewe wat U my bied deur Jesus. Dankie Here dat ek nou u kind is!

Johannes 1:12 sê: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” As jy nou hierdie gebed gebid het om ‘n kind van God te word, of nog vrae het oor hoe om sy kind te word, kan jy ons gerus e-pos by wiehetgodgemaak@gmail.com

Hoe weet die mense hoe Jesus gelyk het?

Deur Herman Carstens en Marianne van Zyl
Niemand wat vandag op aarde leef weet verseker hoe Jesus gelyk het nie. Wat ons wel kan sê is dat Jesus waarskynlik gelyk het soos meeste midde-Oosterse Jode in die eerste eeu. Hulle het blas velle en donker hare, en die mans het baarde gehad. Omdat Jesus-hulle vis gevang het en Hy ʼn skrynwerker was, was Hy heel moontlik fiks eerder as vet. Daar is nie goeie rede om te dink dat Hy buitengewoon lank of aantreklik was nie. Om die waarheid te sê, die enigste ding wat die Bybel oor Jesus se voorkoms sê is dat Hy juis nie aantreklik was nie (Jesaja 53:2). Jesus was so middel tot laat dertigs toe Hy gekruisig is, wat vir daardie tyd al redelik oud was – mense het nie so lank gelewe soos vandag nie.
Die naam “Jesus” was ook nogal algemeen in daai tyd. Dis soos Pieter of Johan vandag. Hy sou heel moontlik nie Eerstespan-rugby gespeel het nie. Inteendeel, God-as-mens was alte menslik. Dis nie sy uiterlike voorkoms wat Hom anders gemaak het nie.

Wat kan mens ʼn ateïs antwoord as hy vra hoe jy kan seker wees dat God waarlik bestaan?

Deur Herman Carstens
Eerstens sou ek vra, hoe definieer jy sekerheid? ʼn Ateïs se sekerheid is anders is ʼn Christen se sekerheid: vir die ateïs gaan dit gewoonlik (verkeerdelik) oor ʼn wetenskaplike teorie, of negatiewe emosies teenoor God. Maar vir Christene gaan dit oor liefdeskennis wat in ʼn verhouding opgedoen word. Dis nie onwetenskaplik nie, maar dis soos jou verhoudings met jou geliefdes: dis ʼn ander soort sekerheid en ʼn ander soort kennis.

Daar is twee goeie getuienisse dat God bestaan: die Heilige Gees wat ons in ons woon – dit is, ons ervaring van God, en dan ook sekere argumente wat wys dat dit meer redelik is om in God te glo as om nie in Hom te glo nie. Ons kan nie van ateïste verwag om ʼn persoonlike verhouding met God te hê nie (dis hoekom hulle ateïste is!). As jy vir hulle vertel dat God in jou woon en jy Hom ken, gaan hulle jou dalk snaaks aankyk. So dit help om hulle te wys daarop dat ons ook op intelligente wyse met hulle kan gesels oor God se bestaan. Die argumente, waarna ons nou hieronder sal kyk, is geldig. Maar dit beteken nie dat mense outomaties daardeur oortuig word nie, want mense het dikwels ook emosionele redes vir hulle geloof of ongeloof.

Die klassieke argumente vir God se bestaan draai gewoonlik rondom Jesus se opstanding, die ontstaan van die heelal, en ons sin vir reg en verkeerd. Daar is nog verskeie ander argumente, maar dit sal ʼn boek verg om oor almal te skryf.

Jesus se opstanding
Geskiedkundiges wat die saak ernstig ondersoek het, stem amper almal saam oor die volgende punte:
• Jesus van Nasaret was ʼn regte persoon
• Hy is gekruisig en is dood verklaar
• Hy is begrawe deur Josef van Arematea.
• Die graf was later leeg
• Sy dissipels en ander mense het na sy dood ervarings van Hom gehad waar hulle glo hy fisies aan hulle verskyn het.

Skeptici probeer dan een van hierdie feite ontken. Maar hulle argumente is maar dun. Hulle sal byvoorbeeld sê dat hy nie regtig dood was nie. Maar die Romeinse soldate was professionele laksmanne – dit was hulle werk. As hulle ʼn fout gemaak het, sou hulle met hulle eie lewens boet, so hulle het séker gemaak. As hy dit wel net-net oorleef het, sou hy in geen toestand wees om geloof te inspireer by sy volgelinge nie. Hulle sou Hom eerder wou versorg. Ander sê weer dat die graf nooit leeg was nie. Maar as die Jode wou bewys dat die Christene verkeerd was, moes hulle maar net die lyk gaan haal. Hulle kon nie. Hulle het gesê die dissipels het die lyk gesteel. Maar as die dissipels die lyk gesteel het, hoekom was hulle bereid om dood te gaan vir hulle eie leuen? Dit maak nie sin nie. Ander sal sê dat die dissipels gehallusineer het. Maar mense hallusineer nie in groepe nie. Die beste gevolgtrekking wat ons kan maak, is dat Jesus regtig dood was, en toe regtig lewendig was daarna. Hier is ‘n video onderhoud met Dr Mike Licona (www.risenjesus.com) oor die bewyse vir die opstanding.

Die ontstaan van die heelal
Dis een van die oudste argumente vir die bestaan van God. Daar is baie weergawes, maar basies lyk dit so: Alles wat begin, het ʼn oorsaak. Die heelal het begin. Dus het die heelal ʼn oorsaak. Daardie oorsaak moet buite tyd en ruimte staan, en het ook materie en energie geskep. Daardie oorsaak het nie ʼn begin nie. Dit begin al hoe meer na God klink, of hoe? Ateïste moet dus gewoonlik een van hierdie twee punte ontken: Die heelal het begin, of alles wat begin het ʼn oorsaak. Die probleem is dat alhoewel baie ateïste probeer om dit verkeerd te bewys, ons beste wetenskap redelik seker is daarvan dat die heelal begin het met die Big Bang (Oerknal). Om enigiets anders te sê is onwetenskaplik. So dan moet ateïste sê dat die heelal spontaan begin het, sonder ʼn oorsaak, maar net so uit die bloute uit (al was daar nie eers bloute nie). Dit vat baie geloof! As jy ʼn geluid in jou huis hoor, wonder jy wat dit veroorsaak het. As jy ʼn ontploffing buite in die tuin hoor, dink jy nie maar net “ag, dit het sommer het gebeur sonder ʼn oorsaak” nie. Hoekom wil jy dit doen met die Oerknal? Nee, die heelal het begin, en Iets het dit veroorsaak. Daardie Iets is God.

Reg en verkeerd
Ek het nog nie ʼn ateïs teëgekom wat hierdie een die eerste keer verstaan nie, maar dis nietemin belangrik. Ons het almal hierdie idee dat sekere dinge reg, en ander dinge verkeerd is. En ons glo dat hierdie dinge meer as net ons eie opinies is. Dis verkeerd om mense dood te maak, ongeag van wat mense se opinies of die landswette daaroor sê. Maar hoekom? Mense kan probeer sê dis as gevolg van evolusie, of dis nodig vir die samelewing om te kan funksioneer. Maar niks van daai dinge het gesag nie; niks daarvan kan ons waarlik verplig nie – ons hoef nie daarna te luister nie. Reg en verkeerd kan slegs bestaan as daar ʼn goeie, liefdevolle, regverdige God is wat vir ons hierdie morele wette gegee het, en aan wie ons aanspreeklik is. Anders kan jy dalk sê dat dit ʼn goeie idee is om nie mense dood te maak nie, of dit lei tot ʼn beter samelewing, maar dis nie waarlik verkeerd nie.

So dis meer redelik om te glo dat God bestaan as om te glo dat Hy nie bestaan nie. Maar tog gaan dit mense steeds nie heeltemal oortuig nie. Dis omdat God nie ʼn teorie of ʼn argument is nie. God is ʼn persoon. Gestel ek het nooit my pa ontmoet nie, en jy vertel vir my dat ek hom more by ʼn restaurant kan ontmoet. Jy sê hy is baie lief vir my, en wys vir my briewe en gee vir my allerhande ander soort bewyse. Sou dit redelik van my wees om te sê dat ek jou slegs sal glo as jy vir my eers met ʼn wetenskaplike eksperiment kan bewys dat hy bestaan? Nee. Wat van met argumente? Wel, dit kan help, maar net tot op ʼn punt. As ek dit werklik self wil weet, sal ek moet gaan om hom te ontmoet. En ek sal tyd saam met hom moet spandeer, en hom leer ken. En myself emosioneel oopmaak aan hom, en hom toelaat om te wys dat hy my liefhet. Dis dieselfde ding met God. Argumente werk net tot op ʼn punt. Daarna sal ʼn nie-gelowige self verder moet gaan.

Vir ‘n effe meer komplekse maar uitstekende artikel oor hoe om gesprekke met (onder andere) ateïste te benader, sien http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/