Wie het vir God gemaak?

Deur Marianne van Zyl
Die vraag “Wie het God gemaak?”, of anders gestel “Deur wie is God gemaak?” is wat hulle in Engels sou noem ‘n “trick question”. Die rede daarvoor is dat die vraag reeds ‘n spesifieke stelling as waar aanvaar, sonder dat daar bewyse vir daardie stelling is. ‘n Mens noem dit ‘n ingesmokkelde voorafveronderstelling. Kom ek gee ‘n voorbeeld: As iemand vir jou vra “Weet jou ma jy’s dom?”, dan veronderstel die persoon wat die vraag vra dat jy dom is. Dit is dus die verkeerde vraag om te vra – die vraag is nie of jou ma dit weet nie, die vraag is of jy wel dom is. As iemand vra “Wie het vir God gemaak?” dan veronderstel hulle dat God wel gemaak is, en dat Hy op ‘n sekere stadium begin het om te bestaan. Dit is ‘n foutiewe stelling, aangesien God per definisie ewig is. Dit beteken dat Hy nog altyd bestaan het, Hy het nie op ‘n stadium begin om te bestaan nie.

Alles binne-in die heelal het op ‘n stadium begin om te bestaan, en die wetenskap sê vir ons dat die heelal self op ‘n stadium begin het om te bestaan. Skeptiese mense of ateïste sal soms sê dat alles wat bestaan ‘n oorsaak het, en daarom moet God ook ‘n oorsaak hê, en as Hy ‘n oorsaak het, dan is Hy nie God nie, want dan is daar iets groters of sterkers as Hy. Maar daar is ‘n belangrike verskil tussen God en al die ander dinge wat bestaan, naamlik dat Hy in ‘n ander kategorie is omdat Hy vir ewig al bestaan. Dit is bietjie soos om te vra “hoe ruik blou?” – dit is nie ‘n geldige vraag nie, want blou is ‘n kleur, nie iets met ‘n reuk nie. Dit val in ‘n ander kategorie. Alles binne-in die heelal het op ‘n stadium begin om te bestaan, en daarom kan ons sê dat hulle ‘n oorsaak het. God is egter buite die heelal (buite alle ruimte en tyd) en Hy het nie op ‘n stadium begin om te bestaan nie.

Hoe kan ek ʼn nie-christen wat weier om te glo, oortuig of oorreed om te begin glo?

Deur Herman Carstens
Hier is die ding: jy kan nie iemand wat nie wil glo, oortuig om te glo nie. Geen hoeveelheid getuienis gaan vir hulle werk nie. Geloof gaan oor beide kennis en vertroue, en die Heilige Gees speel ook ‘n kritiese rol in bekering.
Aan die een kant is dit goed so, want dit beteken dat jy nie mense kan manipuleer nie. Maar dis soms frustrerend as jy weet dat hulle iets wonderlik mis. Dit verg baie wysheid en geduld en luister, en om net vir hulle te wys dat jy reg is en hulle verkeerd, gaan hulle net verneder en nog verder wegjaag. Meeste mense is eers bereid om met vrymoedigheid te luister wanneer hulle weet dat jy werklik omgee en dat hulle nie net ʼn ‘projek’ is vir jou nie.
Party mense verwag dat God soos ʼn wetenskapeksperiment moet werk. Maar God is ʼn persoon, nie ʼn wetenskaplike teorie nie. En jy kan nie persone “bewys” in wetenskapeksperimente nie. God stel heel moontlik nie eers daarin belang nie – so ʼn eksperiment sou vir ons meer inligting gee, maar meeste van ons het nie ʼn inligting-probleem nie. Van die aakligste misdade in die geskiedenis is deur die mees opgevoede mense gepleeg. Nee, ons het eerder ʼn hart-probleem: ons wil en karakter. God stel dus meer daarin belang om ons in ʼn verhouding in te nooi, en om ons karakter te verander na dié van Jesus toe. Dit gebeur as ons hom op plekke en op maniere soek wat ten diepste verander wie ons is. Ongelukkig is baie mense nie bereid om dit te doen nie.
Vir baie mense is dit omdat hulle dink dat Christenskap hulle pret gaan bederf, of dat God kwaad is oor iets wat hulle gedoen het. Ander is seergemaak deur Christene, dalk selfs ‘in die naam van Christenskap’. Ander het dalk ʼn boek gelees wat Christene voorhou as dom. Ander se pa’s het hulle dalk mishandel, en die idee van ʼn hemelse Pa is vir hulle onaangenaam. Ander het iemand verloor vir wie hulle lief is, en kan nie in ʼn liefdevolle God glo wat sulke dinge sal toelaat nie. Hierdie is diep hartsake, en maklike antwoorde gaan nie vlieg nie.
Om hierdie mense te help, is dit belangrik dat ons self duidelik is oor wat die Goeie Nuus is, en wie ons is: boodskappers, of ambassadeurs, met goeie nuus. Ons het ʼn storie wat mense bly behoort te maak. Meeste ongelowiges verwerp ʼn God waarin ons nie glo nie – een wat meer gemeen, of kleinlik, of dom is wat ons self is. Gewoonlik is dit omdat hulle nog nie die Goeie Nuus as goeie nuus gehoor het nie.
So met dit ingedagte, probeer die volgende vrae:
Wie is God, en wie is Jesus?
Hoekom wil jy nie glo nie?
Wat sou God moes doen om jou te oortuig dat Hy bestaan en lief is vir jou?
Is daar iets wat Hy kan doen wat jy nie later as toeval, of as jou verbeelding sou kon afmaak nie?
Is daar iets wat Hy kan doen wat hy nog nie gedoen het nie?

Vir ‘n effe meer komplekse maar uitstekende artikel oor hoe ‘n mens gesprekke met mense van ander geloofsoortuigings moet benader, sien http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/

Wat kan mens ʼn ateïs antwoord as hy vra hoe jy kan seker wees dat God waarlik bestaan?

Deur Herman Carstens
Eerstens sou ek vra, hoe definieer jy sekerheid? ʼn Ateïs se sekerheid is anders is ʼn Christen se sekerheid: vir die ateïs gaan dit gewoonlik (verkeerdelik) oor ʼn wetenskaplike teorie, of negatiewe emosies teenoor God. Maar vir Christene gaan dit oor liefdeskennis wat in ʼn verhouding opgedoen word. Dis nie onwetenskaplik nie, maar dis soos jou verhoudings met jou geliefdes: dis ʼn ander soort sekerheid en ʼn ander soort kennis.

Daar is twee goeie getuienisse dat God bestaan: die Heilige Gees wat ons in ons woon – dit is, ons ervaring van God, en dan ook sekere argumente wat wys dat dit meer redelik is om in God te glo as om nie in Hom te glo nie. Ons kan nie van ateïste verwag om ʼn persoonlike verhouding met God te hê nie (dis hoekom hulle ateïste is!). As jy vir hulle vertel dat God in jou woon en jy Hom ken, gaan hulle jou dalk snaaks aankyk. So dit help om hulle te wys daarop dat ons ook op intelligente wyse met hulle kan gesels oor God se bestaan. Die argumente, waarna ons nou hieronder sal kyk, is geldig. Maar dit beteken nie dat mense outomaties daardeur oortuig word nie, want mense het dikwels ook emosionele redes vir hulle geloof of ongeloof.

Die klassieke argumente vir God se bestaan draai gewoonlik rondom Jesus se opstanding, die ontstaan van die heelal, en ons sin vir reg en verkeerd. Daar is nog verskeie ander argumente, maar dit sal ʼn boek verg om oor almal te skryf.

Jesus se opstanding
Geskiedkundiges wat die saak ernstig ondersoek het, stem amper almal saam oor die volgende punte:
• Jesus van Nasaret was ʼn regte persoon
• Hy is gekruisig en is dood verklaar
• Hy is begrawe deur Josef van Arematea.
• Die graf was later leeg
• Sy dissipels en ander mense het na sy dood ervarings van Hom gehad waar hulle glo hy fisies aan hulle verskyn het.

Skeptici probeer dan een van hierdie feite ontken. Maar hulle argumente is maar dun. Hulle sal byvoorbeeld sê dat hy nie regtig dood was nie. Maar die Romeinse soldate was professionele laksmanne – dit was hulle werk. As hulle ʼn fout gemaak het, sou hulle met hulle eie lewens boet, so hulle het séker gemaak. As hy dit wel net-net oorleef het, sou hy in geen toestand wees om geloof te inspireer by sy volgelinge nie. Hulle sou Hom eerder wou versorg. Ander sê weer dat die graf nooit leeg was nie. Maar as die Jode wou bewys dat die Christene verkeerd was, moes hulle maar net die lyk gaan haal. Hulle kon nie. Hulle het gesê die dissipels het die lyk gesteel. Maar as die dissipels die lyk gesteel het, hoekom was hulle bereid om dood te gaan vir hulle eie leuen? Dit maak nie sin nie. Ander sal sê dat die dissipels gehallusineer het. Maar mense hallusineer nie in groepe nie. Die beste gevolgtrekking wat ons kan maak, is dat Jesus regtig dood was, en toe regtig lewendig was daarna. Hier is ‘n video onderhoud met Dr Mike Licona (www.risenjesus.com) oor die bewyse vir die opstanding.

Die ontstaan van die heelal
Dis een van die oudste argumente vir die bestaan van God. Daar is baie weergawes, maar basies lyk dit so: Alles wat begin, het ʼn oorsaak. Die heelal het begin. Dus het die heelal ʼn oorsaak. Daardie oorsaak moet buite tyd en ruimte staan, en het ook materie en energie geskep. Daardie oorsaak het nie ʼn begin nie. Dit begin al hoe meer na God klink, of hoe? Ateïste moet dus gewoonlik een van hierdie twee punte ontken: Die heelal het begin, of alles wat begin het ʼn oorsaak. Die probleem is dat alhoewel baie ateïste probeer om dit verkeerd te bewys, ons beste wetenskap redelik seker is daarvan dat die heelal begin het met die Big Bang (Oerknal). Om enigiets anders te sê is onwetenskaplik. So dan moet ateïste sê dat die heelal spontaan begin het, sonder ʼn oorsaak, maar net so uit die bloute uit (al was daar nie eers bloute nie). Dit vat baie geloof! As jy ʼn geluid in jou huis hoor, wonder jy wat dit veroorsaak het. As jy ʼn ontploffing buite in die tuin hoor, dink jy nie maar net “ag, dit het sommer het gebeur sonder ʼn oorsaak” nie. Hoekom wil jy dit doen met die Oerknal? Nee, die heelal het begin, en Iets het dit veroorsaak. Daardie Iets is God.

Reg en verkeerd
Ek het nog nie ʼn ateïs teëgekom wat hierdie een die eerste keer verstaan nie, maar dis nietemin belangrik. Ons het almal hierdie idee dat sekere dinge reg, en ander dinge verkeerd is. En ons glo dat hierdie dinge meer as net ons eie opinies is. Dis verkeerd om mense dood te maak, ongeag van wat mense se opinies of die landswette daaroor sê. Maar hoekom? Mense kan probeer sê dis as gevolg van evolusie, of dis nodig vir die samelewing om te kan funksioneer. Maar niks van daai dinge het gesag nie; niks daarvan kan ons waarlik verplig nie – ons hoef nie daarna te luister nie. Reg en verkeerd kan slegs bestaan as daar ʼn goeie, liefdevolle, regverdige God is wat vir ons hierdie morele wette gegee het, en aan wie ons aanspreeklik is. Anders kan jy dalk sê dat dit ʼn goeie idee is om nie mense dood te maak nie, of dit lei tot ʼn beter samelewing, maar dis nie waarlik verkeerd nie.

So dis meer redelik om te glo dat God bestaan as om te glo dat Hy nie bestaan nie. Maar tog gaan dit mense steeds nie heeltemal oortuig nie. Dis omdat God nie ʼn teorie of ʼn argument is nie. God is ʼn persoon. Gestel ek het nooit my pa ontmoet nie, en jy vertel vir my dat ek hom more by ʼn restaurant kan ontmoet. Jy sê hy is baie lief vir my, en wys vir my briewe en gee vir my allerhande ander soort bewyse. Sou dit redelik van my wees om te sê dat ek jou slegs sal glo as jy vir my eers met ʼn wetenskaplike eksperiment kan bewys dat hy bestaan? Nee. Wat van met argumente? Wel, dit kan help, maar net tot op ʼn punt. As ek dit werklik self wil weet, sal ek moet gaan om hom te ontmoet. En ek sal tyd saam met hom moet spandeer, en hom leer ken. En myself emosioneel oopmaak aan hom, en hom toelaat om te wys dat hy my liefhet. Dis dieselfde ding met God. Argumente werk net tot op ʼn punt. Daarna sal ʼn nie-gelowige self verder moet gaan.

Vir ‘n effe meer komplekse maar uitstekende artikel oor hoe om gesprekke met (onder andere) ateïste te benader, sien http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/