Almal glo jy brand in die hel, maar net jou gees gaan hemel/hel toe… Maar hoe brand ‘n gees?

Deur Marianne van Zyl
(met erkenning aan Kenneth D. Boa & Robert M. Bowman se boek, “Sense and nonsense about heavan and hell”, Zondervan uitgewers, 2007).

Daar is minstens twee aannames in hierdie vraag ingebou.
1. Dat die hel ‘n vuur is
2. Dat net ‘n mens se gees hemel/hel toe gaan

Kom ons kyk na albei hierdie aannames. Die algmene opvatting dat die hel ‘n vuur is is gebaseer op die vele plekke in die Bybel waar die hel beskryf word as ‘n vuuroond of ‘n poel van vuur en swael (bv Openb. 21:8; Matt. 13:50; Mark. 9:4). Daar is egter ander maniere ook waarop die hel beskryf word. Matt 25:46 praat van “ewige straf”. 2 Tess 1:9 beskryf die “ewige verdoemenis” as ‘n plek waar mense altyd geban is uit die teenwoordigheid van die Here. Daar is ook heelwat verse wat praat van die hel as ‘n diep duisternis (Matt. 8:12; 22:13; 25:30; 2 Pet. 2:17). Hoewel daar verskillende opinies hieroor is, is ek oortuig dat die vuur nie ‘n letterlike vuur is nie, maar simbolies. Daar is vir my drie goeie redes vir hierdie siening. Die eerste is dat Matt 25:41 sê dat die ewige vuur (waarheen die “vervloektes” gestuur word) voorberei is vir die duiwel en sy engele. Die duiwel en sy “engele” (demone) is geestelike wesens, nie fisiese wesens soos ons nie. ‘n Fisiese of letterlike vuur sou dus nie vir hulle ‘n straf wees nie. Tweedens is daar die verwysings na die hel as ‘n diep duisternis (sien hierbo) nie vir my versoenbaar met ‘n letterlike vuur nie (want vuur maak lig). Derdens sou ‘n letterlike vuur ‘n mens se liggaam na ‘n ruk tot as vernietig, en dit is teenstrydig met die verse wat praat van ewigdurende straf. ‘n Letterlike vuur sou ook niks aan ‘n mens se gees of siel doen nie.
Dit gesê is dit dan belangrik om te sê dat net omdat die vuur nie noodwendig letterlik is nie, beteken nie dat dit nie REGTIG en VERSKRIKLIK is nie. Die metafoor van ‘n ewigdurende vuur word gebruik om vir ons te probeer illustreer wat die geestelike pyn en lyding is om vir ewig sonder God se teenwoordigheid te leef. C.S. Lewis het geskryf dat sonde ‘n manier is hoe iemand deur hulle lewe vir God sê “gaan weg, en los my uit”, en die hel is wanneer God uiteindelik vir so iemand hulle wens (om deur Hom uitgelos te word) toestaan.
Die tweede aanname in die vraag is dat net ‘n mens se gees/siel uiteindelik hemel of hel toe gaan. Lees gerus ‘n bietjie deur 1 Korintiërs 15. Daar gee Paulus ‘n lang verduideliking oor die opstanding van die dooies wat sal gebeur wanneer Jesus weer terugkom aarde toe. Daar staan in vers 42 en 44 “…Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie… ‘n Fisiese liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.” (Nuwe Lewende Vertaling). Deur te praat van ‘n geestelike liggaam bedoel Paulus nie ‘n gees nie, maar ‘n tipe liggaam wat deur God nuutgemaak is en onverganklik is (sien ook 1 Kor 15:52-53).
Hoewel daar minder klem in die Bybel gelê word op die fisiese opstanding van die ongelowiges, stel Johannes 5:28-29 en Handelinge 24:15 dit dat beide “goeie” en “slegte” mense uit die dood opgewek sal word voor die finale oordeel. In Matteus 10:28 sê Jesus dat God beide ‘n mens se liggaam en siel in die hel kan vernietig. Dit lyk dus of dit nie net ‘n mens se gees is wat uiteindelik hemel of hel toe gaan nie, maar ‘n opgewekte weergawe van jou liggaam.

Slotsom: Dit lyk vir ons uit die Bybel of nie net ‘n mens se gees hemel of hel toe gaan nie, maar ‘n opgewekte weergawe van jou liggaam ook. Die implikasie sou wees dat fisiese pyn in die hel moontlik sou wees, maar die beskrywings van die hel as ‘n vuur is meer waarskynlik metafore om aan te dui hoe intens en ondraaglik die geestelike en emosionele pyn in die hel sal wees as gevolg van die afwesigheid van God en sy liefde.

Lees gerus ook die artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wat-bepaal-of-jy-hemel-of-hel-toe-gaan/