Is daar boeke wat eintlik in die Bybel moes wees wat verlore geraak het?

Deur Marianne van Zyl
Die Bybel is nie net een boek nie, maar eintlik ‘n versameling boeke (sien die artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wie-presies-het-die-bybel-geskryf/ vir meer inligting). Daar bestaan egter ander antieke geskrifte wat uit min of meer dieselfde tye as die Bybelboeke dateer wat nie in die Bybel opgeneem is nie. Hierdie boeke word “apokriewe” boeke genoem, en mense praat soms daarvan as “verlore boeke van die Bybel”. Hierdie boeke is egter nie regtig verlore in die sin dat hulle heeltemal weggesteek of verduister is nie. Om die waarheid te sê, ‘n klomp daarvan is in Afrikaans vertaal en beskikbaar vir ons om vandag te lees as ons wil (sien die boek “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie, uitgegee deur CUM, 2005). Die apokriewe boeke is egter nie in die Bybel opgeneem nie omdat hulle nie dieselfde hoeveelheid gesag dra as die boeke in die Bybel nie, en nie gesien word as die Woord van God nie.

Die besluite oor die in- of uitsluit van boeke by die Bybel en die gevolglike ontstaan van “apokriewe” boeke is verskillend vir die Ou en die Nuwe Testament. Daar is ‘n klompie boeke by die Ou Testament bygevoeg wat in die Rooms Katolieke kerk se Bybel opgeneem is, maar nie in die Bybel wat deur die Protestantse kerke (dit is nou kerke soos die NG kerk, Hervormde kerk, Gereformeerde kerk, asook kerkgroepe soos Doxa Deo, Lewende Woord, die Baptiste kerke en nog baie ander) gebruik word nie. Hierdie boeke is ‘n bietjie later as die ander boeke (wat in ons Bybels verskyn) geskryf, en is eers later deur die Katolieke kerk as gesagvol erken. Dit word nie deur die Protestantse kerke as gesagvol gesien nie. Dit sluit boeke in soos Tobit, Judit, Die Wysheid van Salomo en 1 en 2 Makkabeërs.

Die boeke wat in die Nuwe Testament opgeneem is wat ons vandag nog kan lees, is almal in die eerste 100 jaar na Jesus se lewe geskryf. Dit is neergeskryf deur mense wat saam met Jesus geleef het en Hom persoonlik geken het, of wat hulle inligting gekry het by mense wat Jesus persoonlik geken het. Daar was dus in daardie tyd nog genoeg ooggetuies van Jesus se lewe op aarde wat sou kon protesteer as die skrywers van die boeke nonsens gepraat het. Ander boeke wat geskryf is oor Jesus se lewe of die lewens van die apostels is almal heelwat later eers geskryf – van die 2de tot die 9de eeu na Christus. Dit sluit in boeke soos die Evangelie van Tomas, die Evangelie van Maria, die Handelinge van Petrus, en die Openbaring van Paulus. Die feit dat die boeke so laat geskryf is skep twee probleme. In die eerste plek beteken dit dat ons nie weet wie dit geskryf het nie en dat die regte skrywer ‘n skuilnaam gebruik het om sy boek belangrik te laat klink (bv die Evangelie van Petrus, wat waarskynlik in +/- 150 na Christus geskryf is, en dus nie deur Petrus geskryf kon gewees het nie, want hy was toe al dood!). Die tweede probleem met die laat datums waarop die apokriewe boeke geskryf is is dat die skrywers te ver in tyd verwyder was van Jesus en sy direkte volgelinge, en dus nie meer so akkuraat kon wees nie (dit sou baie moeiliker wees om hulle feite na te gaan of met ooggetuies te praat om seker te maak wat hulle neergeskryf het het regtig gebeur).

Die besluit oor watter Nuwe Testamentiese boeke om in die Bybel in te sluit en watter om uit te laat is oor die eerste paar eeue na Jesus se lewe gefinaliseer. Die briewe en ander skrywes van die kerkvaders (die tweede generasie kerkleiers na die apostels) gee vir ons belangrike leidrade oor watter boeke deur die vroegste Christene beskou is as gesaghebbend en deur God geïnspireerd. Irenaeus, byvoorbeeld, verwys reeds na 21 van die 27 boeke van die Nuwe Testament in 185 na Christus. Die formalisering van die besluit oor watter boeke deel moet uitmaak van die Bybel is gedoen by verskillende kerkvergaderings (die Konsilie van Laodisea, 363 n.C., die Konsilie van Hippo, 393 n.C. en die Konsilie van Carthage, 397 n.C.). Hierdie vergaderings het egter nie sommer op hulle eie ‘n klomp “random” boeke gekies wat hulle lus was om in die Bybel in te sluit nie, maar het juis probeer om net aan te dui watter boeke reeds wyd en syd deur die destydse kerk as gesaghebbend gesien is.
Lees gerus meer oor die samestelling van die Bybel by
http://www.gotquestions.org/canon-Bible.html