Gaan jy dalk hel toe as jy nooit gedoop is nie?

Deur Herman Carstens
Nee. Gestel jy het nounet vir Jesus aangeneem, en oppad om gedoop te word gaan jy in ʼn motorongeluk dood. God gaan nie vir jou sê “Ah, jy het vir Jesus aangeneem as jou Here, maar ek is jammer, ek kan jou net nie laat inkom nie, jy is nie betyds gedoop nie”. Dis mos laf! God is baie meer liefdevol en regverdig as dit (lees ook wiehetgodgemaak.co.za/wat-bepaal-of-jy-hemel-of-hel-toe-gaan). Mense wat glo dat die doop jou in die hemel in laat inkom, glo nie in redding deur geloof en God se genade alleen nie.
Die doop is ʼn uiterlike teken van God se getrouheid aan jou. Dis die verhouding wat tel. Tog is die doop belangrik – dis een van die kenmerke van ʼn Christen – ʼn heilige teken en geskenk van God af. So as jy nog nooit gedoop is nie, en jy het die Here aangeneem, wat verhoed jou om gedoop te word?
Groot en klein doop
Verder, as jy as baba gedoop is, gaan jy dalk in jou lewe nog baie mense ontmoet wat vir jou sê dat jy nie waarlik gedoop is nie, omdat dit nie jou keuse was nie. Hierdie is ʼn baie komplekse saak, en baie mense is in die verlede seergemaak deur verskillende kerke as gevolg van hulle doopgewoontes, wat beide hartseer en ironies is. Dis iets wat ons moet verenig, en nie verdeel nie. Adrio König het ʼn goeie boek oor die doop geskryf: Christelike Doop, én Bekeringsdoop? As jy wonder, lees dit – dis gebalanseerd en met baie liefde geskryf.
So hier is my persoonlike kort weergawe, as iemand wat as kind gedoop is, maar nie weer nie:
Dis nie nodig om met mense hieroor te baklei nie. Die doop is ʼn sakrament – ʼn besonderse, heilige, geskenk van God af. So dit moet vir ons vreugde gee wat ons ook ernstig maak. As jy nog nooit gedoop is nie, en jy word ‘n Christen, doen dit! Die Nuwe Testament is vol van sulke stories, en dis altyd ʼn goeie ding. As jy klein gedoop is, en jy wil weer gedoop word, bid ernstig daaroor. Lees ʼn paar boeke deur ouens wat nie met jou saamstem nie – dis altyd ʼn goeie idee, oor enige onderwerp. Lees die Bybel, nie om jou punt te bewys nie, maar sodat God met jou kan praat. Probeer om te verstaan wat God se verbond met Israel is, wat die besnydenis daarmee te doen het, en hoekom die doop die besnydenis vervang het. Dis die goue draad van die Ou Testament wat tot Jesus lei, so dis opsigself ʼn verrykende studie. As jy verstaan hoekom die doop God se verbond en getrouheid aan jou simboliseer en hoe dit funksioneer, en jy het steeds vrede in jou hart daaroor, laat jouself gedoop word met die bekeringsdoop.