Is daar boeke wat eintlik in die Bybel moes wees wat verlore geraak het?

Deur Marianne van Zyl
Die Bybel is nie net een boek nie, maar eintlik ‘n versameling boeke (sien die artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wie-presies-het-die-bybel-geskryf/ vir meer inligting). Daar bestaan egter ander antieke geskrifte wat uit min of meer dieselfde tye as die Bybelboeke dateer wat nie in die Bybel opgeneem is nie. Hierdie boeke word “apokriewe” boeke genoem, en mense praat soms daarvan as “verlore boeke van die Bybel”. Hierdie boeke is egter nie regtig verlore in die sin dat hulle heeltemal weggesteek of verduister is nie. Om die waarheid te sê, ‘n klomp daarvan is in Afrikaans vertaal en beskikbaar vir ons om vandag te lees as ons wil (sien die boek “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie, uitgegee deur CUM, 2005). Die apokriewe boeke is egter nie in die Bybel opgeneem nie omdat hulle nie dieselfde hoeveelheid gesag dra as die boeke in die Bybel nie, en nie gesien word as die Woord van God nie.

Die besluite oor die in- of uitsluit van boeke by die Bybel en die gevolglike ontstaan van “apokriewe” boeke is verskillend vir die Ou en die Nuwe Testament. Daar is ‘n klompie boeke by die Ou Testament bygevoeg wat in die Rooms Katolieke kerk se Bybel opgeneem is, maar nie in die Bybel wat deur die Protestantse kerke (dit is nou kerke soos die NG kerk, Hervormde kerk, Gereformeerde kerk, asook kerkgroepe soos Doxa Deo, Lewende Woord, die Baptiste kerke en nog baie ander) gebruik word nie. Hierdie boeke is ‘n bietjie later as die ander boeke (wat in ons Bybels verskyn) geskryf, en is eers later deur die Katolieke kerk as gesagvol erken. Dit word nie deur die Protestantse kerke as gesagvol gesien nie. Dit sluit boeke in soos Tobit, Judit, Die Wysheid van Salomo en 1 en 2 Makkabeërs.

Die boeke wat in die Nuwe Testament opgeneem is wat ons vandag nog kan lees, is almal in die eerste 100 jaar na Jesus se lewe geskryf. Dit is neergeskryf deur mense wat saam met Jesus geleef het en Hom persoonlik geken het, of wat hulle inligting gekry het by mense wat Jesus persoonlik geken het. Daar was dus in daardie tyd nog genoeg ooggetuies van Jesus se lewe op aarde wat sou kon protesteer as die skrywers van die boeke nonsens gepraat het. Ander boeke wat geskryf is oor Jesus se lewe of die lewens van die apostels is almal heelwat later eers geskryf – van die 2de tot die 9de eeu na Christus. Dit sluit in boeke soos die Evangelie van Tomas, die Evangelie van Maria, die Handelinge van Petrus, en die Openbaring van Paulus. Die feit dat die boeke so laat geskryf is skep twee probleme. In die eerste plek beteken dit dat ons nie weet wie dit geskryf het nie en dat die regte skrywer ‘n skuilnaam gebruik het om sy boek belangrik te laat klink (bv die Evangelie van Petrus, wat waarskynlik in +/- 150 na Christus geskryf is, en dus nie deur Petrus geskryf kon gewees het nie, want hy was toe al dood!). Die tweede probleem met die laat datums waarop die apokriewe boeke geskryf is is dat die skrywers te ver in tyd verwyder was van Jesus en sy direkte volgelinge, en dus nie meer so akkuraat kon wees nie (dit sou baie moeiliker wees om hulle feite na te gaan of met ooggetuies te praat om seker te maak wat hulle neergeskryf het het regtig gebeur).

Die besluit oor watter Nuwe Testamentiese boeke om in die Bybel in te sluit en watter om uit te laat is oor die eerste paar eeue na Jesus se lewe gefinaliseer. Die briewe en ander skrywes van die kerkvaders (die tweede generasie kerkleiers na die apostels) gee vir ons belangrike leidrade oor watter boeke deur die vroegste Christene beskou is as gesaghebbend en deur God geïnspireerd. Irenaeus, byvoorbeeld, verwys reeds na 21 van die 27 boeke van die Nuwe Testament in 185 na Christus. Die formalisering van die besluit oor watter boeke deel moet uitmaak van die Bybel is gedoen by verskillende kerkvergaderings (die Konsilie van Laodisea, 363 n.C., die Konsilie van Hippo, 393 n.C. en die Konsilie van Carthage, 397 n.C.). Hierdie vergaderings het egter nie sommer op hulle eie ‘n klomp “random” boeke gekies wat hulle lus was om in die Bybel in te sluit nie, maar het juis probeer om net aan te dui watter boeke reeds wyd en syd deur die destydse kerk as gesaghebbend gesien is.
Lees gerus meer oor die samestelling van die Bybel by
http://www.gotquestions.org/canon-Bible.html

Wie presies het die Bybel geskryf?

Deur Marianne van Zyl
Ons dink dikwels aan die Bybel as een boek, maar dit is eintlik ‘n hele biblioteek, of versameling boeke! Dit bestaan uit 66 boeke wat deur meer as 40 mense neergepen is oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar. Die eerste 39 boeke noem ons die Ou Testament. Dit is boeke wat geskryf is voor Jesus se geboorte, oor ‘n baie lang tydperk (vanaf ongeveer 1400 tot 400 jaar voor Christus se geboorte) deur ‘n verskeidenheid mense. Die laaste 27 boeke in die Bybel noem ons die Nuwe Testament. Dit bestaan uit vier evangelies, oftewel weergawes van Jesus se lewensverhaal, ‘n geskiedkundige rekord van die begin/ontstaan van die kerk (Handelinge), ‘n versameling briewe wat deur volgelinge van Jesus geskryf is, en die boek Openbaring wat ‘n optekening is van ‘n visioen (of openbaring) oor die eindtyd, die hel en die hemel. Die boeke wat in die Nuwe Testament opgeneem is, is almal in ‘n relatief kort tyd nadat Jesus op aarde was geskryf deur mense wat Hom óf self persoonlik geken het, óf hulle inligting gekry het by mense wat Hom persoonlik geken het. Dit is kort genoeg na Jesus se dood geskryf dat daar nog baie ooggetuies gelewe het wat die feite of aansprake in die boeke kon bevraagteken as dit nie waar was nie.
Ten spyte van die feit dat die Bybel deur ongeveer 40 verskillende mense uit verskillende beroepe en agtergronde en oor so ‘n lang tydperk neergeskryf is, is daar ‘n goue draad wat daardeur loop, wat nie menslik verklaarbaar is nie. Die akkuraatheid daarvan in terme van die geskiedenis wat dit beskryf, die argeologie en die profesieë daarin is ook buitengewoon. Dit is omdat God deur sy Heilige Gees die skrywers van die Bybelboeke geïnspireer en gelei het toe hulle die boeke neergeskryf het. Die Bybel is nie net mense se woorde of idees oor God nie, maar God se openbaring van Homself en sy wil en sy plan vir die mensdom. 2 Timoteus 3:16 sê “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek…” Hoewel hierdie vers deur Paulus geskryf is en waarskynlik op daardie stadium hoofsaaklik verwys het na die boeke van die Ou Testament, sien ons dat Petrus ook Paulus se briewe gesien het as deel van die Skrif (sien 2 Petrus 3:15-16). Ons sien ook dat Paulus na ‘n gedeelte in die evangelie van Lukas verwys as deel van die Skrif (sien 1 Timoteus 5:18 en Lukas 10:7).
Die boeke van die Bybel is dus uiteindelik indirek deur God self geskryf, en is ‘n onbeskryflik waardevolle geskenk aan ons as mense waardeur ons Hom kan leer ken.
Lees gerus ook hierdie artikel oor die vraag of die Bybel regtig God se woord is:
http://www.gotquestions.org/Bible-God-Word.html

Almal glo jy brand in die hel, maar net jou gees gaan hemel/hel toe… Maar hoe brand ‘n gees?

Deur Marianne van Zyl
(met erkenning aan Kenneth D. Boa & Robert M. Bowman se boek, “Sense and nonsense about heavan and hell”, Zondervan uitgewers, 2007).

Daar is minstens twee aannames in hierdie vraag ingebou.
1. Dat die hel ‘n vuur is
2. Dat net ‘n mens se gees hemel/hel toe gaan

Kom ons kyk na albei hierdie aannames. Die algmene opvatting dat die hel ‘n vuur is is gebaseer op die vele plekke in die Bybel waar die hel beskryf word as ‘n vuuroond of ‘n poel van vuur en swael (bv Openb. 21:8; Matt. 13:50; Mark. 9:4). Daar is egter ander maniere ook waarop die hel beskryf word. Matt 25:46 praat van “ewige straf”. 2 Tess 1:9 beskryf die “ewige verdoemenis” as ‘n plek waar mense altyd geban is uit die teenwoordigheid van die Here. Daar is ook heelwat verse wat praat van die hel as ‘n diep duisternis (Matt. 8:12; 22:13; 25:30; 2 Pet. 2:17). Hoewel daar verskillende opinies hieroor is, is ek oortuig dat die vuur nie ‘n letterlike vuur is nie, maar simbolies. Daar is vir my drie goeie redes vir hierdie siening. Die eerste is dat Matt 25:41 sê dat die ewige vuur (waarheen die “vervloektes” gestuur word) voorberei is vir die duiwel en sy engele. Die duiwel en sy “engele” (demone) is geestelike wesens, nie fisiese wesens soos ons nie. ‘n Fisiese of letterlike vuur sou dus nie vir hulle ‘n straf wees nie. Tweedens is daar die verwysings na die hel as ‘n diep duisternis (sien hierbo) nie vir my versoenbaar met ‘n letterlike vuur nie (want vuur maak lig). Derdens sou ‘n letterlike vuur ‘n mens se liggaam na ‘n ruk tot as vernietig, en dit is teenstrydig met die verse wat praat van ewigdurende straf. ‘n Letterlike vuur sou ook niks aan ‘n mens se gees of siel doen nie.
Dit gesê is dit dan belangrik om te sê dat net omdat die vuur nie noodwendig letterlik is nie, beteken nie dat dit nie REGTIG en VERSKRIKLIK is nie. Die metafoor van ‘n ewigdurende vuur word gebruik om vir ons te probeer illustreer wat die geestelike pyn en lyding is om vir ewig sonder God se teenwoordigheid te leef. C.S. Lewis het geskryf dat sonde ‘n manier is hoe iemand deur hulle lewe vir God sê “gaan weg, en los my uit”, en die hel is wanneer God uiteindelik vir so iemand hulle wens (om deur Hom uitgelos te word) toestaan.
Die tweede aanname in die vraag is dat net ‘n mens se gees/siel uiteindelik hemel of hel toe gaan. Lees gerus ‘n bietjie deur 1 Korintiërs 15. Daar gee Paulus ‘n lang verduideliking oor die opstanding van die dooies wat sal gebeur wanneer Jesus weer terugkom aarde toe. Daar staan in vers 42 en 44 “…Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie… ‘n Fisiese liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.” (Nuwe Lewende Vertaling). Deur te praat van ‘n geestelike liggaam bedoel Paulus nie ‘n gees nie, maar ‘n tipe liggaam wat deur God nuutgemaak is en onverganklik is (sien ook 1 Kor 15:52-53).
Hoewel daar minder klem in die Bybel gelê word op die fisiese opstanding van die ongelowiges, stel Johannes 5:28-29 en Handelinge 24:15 dit dat beide “goeie” en “slegte” mense uit die dood opgewek sal word voor die finale oordeel. In Matteus 10:28 sê Jesus dat God beide ‘n mens se liggaam en siel in die hel kan vernietig. Dit lyk dus of dit nie net ‘n mens se gees is wat uiteindelik hemel of hel toe gaan nie, maar ‘n opgewekte weergawe van jou liggaam.

Slotsom: Dit lyk vir ons uit die Bybel of nie net ‘n mens se gees hemel of hel toe gaan nie, maar ‘n opgewekte weergawe van jou liggaam ook. Die implikasie sou wees dat fisiese pyn in die hel moontlik sou wees, maar die beskrywings van die hel as ‘n vuur is meer waarskynlik metafore om aan te dui hoe intens en ondraaglik die geestelike en emosionele pyn in die hel sal wees as gevolg van die afwesigheid van God en sy liefde.

Lees gerus ook die artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wat-bepaal-of-jy-hemel-of-hel-toe-gaan/

As iemand tot bekering kom en dan later heeltemal afwyk en met satanisme of iets betrokke raak, is hy dan steeds gered?

Deur Marianne van Zyl
Hierdie vraag is ‘n baie moeilike vraag om te beantwoord, aangesien daar binne die Christendom minstens twee baie uiteenlopende sienings oor die saak is, en albei sienings word uit die Bybel gestaaf. Voordat ek hierdie sienings noem, wil ek net sê dat ons nêrens in die Bybel geroep word om te besluit of te beoordeel of iemand anders hemel toe gaan of nie. Dit is God se besluit, en syne alleen. Hy is die enigste Een wat elke mens se hart regtig ken. Hy is 100% liefdevol en 100% regverdig en ons kan sy oordeel heeltemal vertrou. As ons bekommerd is oor iemand anders se redding, is die beste ding wat ons kan doen om vir daardie persoon te bid, vir hulle lief te wees en hulle te probeer ondersteun en, as ons die geleentheid kry om dit te doen, hulle aan te moedig om hulle verhouding met die Here weer reg te maak.

Die eerste siening binne die Christendom oor die vraag hierbo is dat as iemand eenmaal gered is deur Jesus, dat hulle vir altyd gered bly, maak nie saak wat gebeur of wat hulle doen of glo vir die res van hulle lewens nie (sien bv http://www.gotquestions.org/once-saved-always-saved.html vir ‘n verdediging van hierdie standpunt). Dan is daar ook ‘n siening dat dit moontlik is vir iemand om hulle redding te “verloor” as hulle nie volhard in hulle geloof nie, of as hulle ophou om in Jesus te glo en Hom te volg (sien bv http://mysouthland.com/images/DoctrinalPapers/Once%20Saved%20Always%20Saved%20is%20not%20true.pdf vir ‘n verdediging van hierdie standpunt). Nota: Ons ondersteun nie noodwendig alles wat in hierdie twee artikels staan nie, ons gee dit slegs as verwysings vir lesers om te kan sien hoe mense hierdie twee standpunte uit die Bybel verdedig).

Ek dink daar is nog ‘n belangrike ding om oor hierdie saak te sê, en dit is dat die Bybel ons beslis nie leer dat ‘n mens deur gewoonweg foute te maak en sonde te doen jou redding verloor nie. As jy in Jesus glo en Hom aangeneem het, het jy die reg gekry om ‘n kind van God te word (Johannes 1:12), jy word nie nou elke keer as jy sonde doen weer “nie sy kind” nie. God weet dat jy ‘n mens is wat foute maak en sonde doen. Lees bietjie Psalm 103 – dit sê dat God geduldig en liefdevol is en dat Hy dit in gedagte hou dat ons van stof gemaak is, dat Hy ons sonde vergewe. Lees ook gerus weer die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15:11-32. Dit vertel hoe God iemand wat weggedwaal het en weer na Hom toe terugkeer vergewe en terugneem in sy huis. Die siening wat ek hierbo van gepraat het dat mense hulle redding kan “verloor” gaan nie oor gewone gelowiges wat ‘n verhouding met Jesus het maar tog nog sonde doen nie. Dit gaan eerder oor mense wat heeltemal ophou om in Jesus te glo, of wat aanhou met ‘n spesifieke sonde in hulle lewe en later heeltemal van God vervreemd raak. Lees ook ons artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wat-bepaal-of-jy-hemel-of-hel-toe-gaan/” title=”Wat bepaal of jy hemel of hel toe gaan? oor hierdie onderwerp.

Het Jesus ooit ‘n vrou gehad toe Hy op aarde was? En hoekom het hy nooit kinders gehad nie?

Deur Marianne van Zyl
Volgens al die ooggetuies wat vir ons Jesus se lewensverhaal neergeskryf het (Matteus, Markus, Lukas en Johannes wie se weergawes van die evangelie in die Bybel opgeteken is) klink dit nie of Jesus ooit ‘n vrou of kinders gehad het nie. Daar was al bewerings dat Jesus ‘n verhouding met Maria Magdalena gehad het, of selfs met haar getroud was. Dan Brown se boek “The Da Vinci Code” het ook hierdie idee probeer versprei. Dit sou natuurlik ‘n lekker sappige storie maak, soveel te meer as die kerk dit probeer “toesmeer” het soos Dan Brown wil beweer. Daar is egter geen goeie geskiedkundige bewyse vir hierdie “conspiracy theory” nie.

Hoewel dit nie algemeen was vir ‘n Joodse man in Jesus se tyd om nie te trou nie, was dit nie totaal en al ongehoord nie. Paulus, die groot sendeling van die vroeë kerk oor wie ons in Handelinge lees, was ook nooit getroud nie. Waarom het Jesus nie getrou en kinders gehad nie? Die Bybel gee nie vir ons ‘n rede nie. My raaiskoot sou wees dat dit óf sou “inmeng” met die primêre rede waarom Hy aarde toe moes kom (om die mens se verhouding met God te herstel deur ‘n perfekte lewe te kom lei en toe vir ons sondes te betaal), óf dat die vrou en kinders wat Hy sou hê dalk deur mense verafgod sou word en só die fokus van God sou aftrek.

Al het Jesus nie ‘n aardse bruid gehad het nie, leer die Bybel ons dat Hy wel ‘n bruid het, naamlik die kerk, dit is, die mense wat in Hom glo en aan Hom behoort (sien Efesiërs 5:23-27 en Openbaring 19:7-9).

As God ʼn God van liefde is, hoe kan daar ʼn hel wees?

Deur Herman Carstens
Dis ʼn baie goeie vraag. Dis net so gewild soos die vraag: “As God ʼn God van liefde is, hoe kan hy moordenaars/verkragters/bose mense in die hemel inlaat?” Snaaks, nè? Nie albei kan waar wees nie. Maar voordat ons by sommige van my gedagtes daaroor uitkom, neem gou ʼn paar minute en dink aan die volgende vrae: As God ʼn God van liefde is, sou dit beteken dat Hy almal in die hemel moet inforseer? Wat van bose mense wat Hom haat en nie daar wil wees nie? Of bloot net hulle eie ding wil doen en nie onderdanig wil wees nie? Die Bybel se beskrywings van die hemel is nie ‘n plek wat net gaan oor persoonlike plesier nie, maar eerder van ‘n plek waar God se teenwoordigheid skyn, en sy wil geskied, eerder as ons s’n. Hoe sou dit vir so ʼn persoon wees om heeltyd in God se teenwoordigheid te wees? As ʼn persoon sy lewe lank sy siel afbreek met haat, jaloesie, selfsug, ontevredenheid, woede, wellus, en trots, wat gaan hy in die hemel doen?
Hierdie vrae behoort vir jou ʼn idee te gee waar hierdie gesprek heen gaan. Die hel is die plek waar mense wat nie in God se teenwoordigheid wil lewe nie, kry wat hulle wil hê. En dis ʼn aaklige ding.
Daar ʼn paar opsies: God kan hulle in die hemel inforseer. Daai Christelike partytjie waar hulle nie wil wees nie. Persoonlik dink ek dat dit vir hulle hel sal wees. Die volgende opsie is om hulle te “rehabiliteer”. Kosmiese korrektiewe dienste. Die Rooms Katolieke noem dit die vagevuur, of “purgatory” in Engels. Daar waar jy ge-“purge” (gesuiwer) word van jou sondes, deur vuur. Alhoewel ons almal ʼn paar mense (nooit onsself nie) kan nomineer vir sulke warm behandeling, staan dit nie in die Bybel nie. Ek vermoed dis omdat die hel nie net ʼn statiese plek is nie. Dis ʼn rigting: ʼn pad verder en verder weg van God af. Ek vermoed die skepper van tyd het nie meer tyd nodig om sekere mense te help om hulle te bekeer nie. Ek sal graag verkeerd wees daaroor, en alle Christene behoort te hoop dat almal op die ou einde hemel toe gaan. Maar sover het ek nog net swak Bybelinterpretasie en swak mensekennis gesien wat dit steun. Die laaste opsie is dat God almal wat nie hemel toe wil gaan nie, van kant maak. Uitsit. Sodat hulle net nie meer bestaan nie. Daar was al goeie evangeliste en teoloë (soos John Stott) wat hierdie siening aangehang het, maar dit was nog nooit die oorwegende of hoofstroom siening binne die kerk van Christus nie.
So waar los dit ons? Die hel is nogsteeds nie ʼn lekker onderwerp om aan te dink nie. Maar as dit vir ons onaangenaam is, is dit sekerlik nog meer onaangenaam vir God, wat Liefde self is. Met sy wysheid, sagmoedigheid, en regverdigheid sal Hy tot ʼn beter oplossing kan kom as wat ons kan. Daarom dink ek dat ons ʼn paar verrassings in die hemel kan verwag. Dallas Willard som dit mooi op:
I know that, as far as forgiveness alone is concerned, the tenderness of God is far greater than we will ever understand on earth or perhaps elsewhere. That is surely what it means to say that he gave his unique Son to die on our behalf. I am thoroughly convinced that God will let everyone into heaven who, in his considered opinion, can stand it. But “standing it” may prove to be a more difficult matter than those who take their view of heaven from popular movies or popular preaching may think. The fires in heaven may be hotter than those in the other place. (Dallas Willard, The Divine Conspiracy)

Wat van mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie? Gaan hulle hel toe?

Deur Herman Carstens
Die kort antwoord is dat ons nie weet nie. Dis nie ʼn vraag wat die Bybelskrywers oor wonder nie, wat klaar vir jou iets moet sê. Ons kan veronderstel dat God minstens so liefdevol en so regverdig teenoor hulle is as wat ons sou wees. So dis nie nodig vir sommige mense om ontsteld te raak oor iets wat hulle nie eers weet God doen of nie doen nie.
Die langer antwoord is dat daar twee dinge is wat ons in spanning moet hou: aan die een kant sê die Bybel dat ons Jesus moet bely as die openbaring van God self. Hy is die enigste Weg, Waarheid, en Lewe (Johannes 14:6). Hy is God se besondere openbaring, en niemand kom na God toe behalwe deur Hom nie. Aan die ander kant is God se krag en Goddelikheid bekend aan alle mense deur die skepping en die gewetens wat in elke persoon ingeplant is (Romeine 1:18-23; 2:1-5). Dis God se algemene openbaring. So die debat tussen Christene is dit: Aan die een kant is daar dié wat sê dat mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie outomaties hel toe gaan. Hulle is in elk geval skuldig, en verdien dit (Romeine 3:12,23). Dis nie onregverdig van God nie. Ek skaar my by die ander kant. Ek dink nie daar is iemand wat nog nie gehoor het nie. Almal weet eintlik. Aan die mense wat as gevolg van tyd en plek nie van Jesus gehoor het nie, het God die vermoë gegee om uit te skepping te kan aflei dat Hy bestaan en gedien behoort te word. Hulle weet ook goed dat hulle sy redding nodig het en dit nie self kan doen nie. Natuurlik gaan baie van daai mense God verwerp, nes baie mense Jesus verwerp. Maar vir die ander is dit moontlik dat hulle, wanneer hulle doodgaan, vir Jesus sal sien. Dan sal hulle kan uitroep, “U is die Een vir wie ek nog my hele lewe smag!” Sal God so ʼn persoon uit die hemel hou? Dis nie vir my om te besluit nie, maar ek twyfel.
Wat beteken dit vir ons sendingwerk? Die evangelie beteken letterlik “Goeie Nuus”, so hoekom sal ons dit van mense weerhou? Ons weet boonop nie aan wie God die vermoë gegee het om te reageer op algemene openbaring nie. Ek weet ek self sou nie – ek het nodig gehad om van Jesus te hoor. Daar is wel ʼn dringendheid by mense wat glo dat die wat nie hoor nie, outomaties hel toe gaan. Maar ek weet ook nie of dit lei tot gesonde evangelisering nie. Dan “wen ons siele” eerder as om mense raak te sien en vir hulle lief te wees. So wie is ons om oor ander te oordeel? Ons bring die Goeie Nuus aan almal, sover ons kan, en ons vertrou God vir die res.

Ek het al baie dinge gedoen waaroor ek spyt is… wat maak my so belangrik dat God my sal vergewe?

Deur Herman Carstens
Ons dink baie keer aan God se liefde as hierdie koue vuur. Asof Hy met so ‘n suur gesig in die hemel sit; lief vir ons, maar eintlik ook met ‘n onaangename smaak in sy mond. Dis heeltemal onwaar. Dis nie net dat God lief is vir jou nie – Hy hou van jou. As Jesus nog in menslike vorm op aarde was, sou Hy tyd saam met jou wou spandeer het, om grappies te maak en tot laat in die aand toe te kuier. En nie net jou perfekte self nie – jy soos wat jy nou is. Hy is nie net lief vir jou soos wat jy veronderstel is om te wees nie, maar soos jy is. Voordat Hy jou gemaak het, het Hy geweet hoe jy gaan aanjaag – dit wat jy al gedoen het, en dit wat jy nog in die toekoms gaan doen. En Hy het gedink dat jy steeds die moeite werd is om jou te skep. Lees gerus weer Psalm 139.

Dit beteken nie dat als wat jy gedoen het, oukei is nie. In Psalm 51 is Dawid rou van spyt na hy aangejaag het soos min van ons ooit sal aanjaag. Dis goed so. Juis omdat Jesus so oor ons voel, breek dit sy hart. En tog noem God vir Dawid ʼn man na sy hart. Dis dieselfde ding met Salomo, Moses, Abraham, en die ander groot “geloofshelde”. Selfs Paulus wat ʼn moordenaar – hy het gehelp om vir Stefanus te vermoor – een van die eerste Christene. Die Bybel is baie eerlik oor die karakters se tekortkominge, want God se liefde en genade is nie afhanklik van hoe perfek ons is nie.
Kyk ‘n bietjie hierdie video oor die mense wat God gebruik het om sy werk te doen in die Bybel se tyd.

Hy wil graag hê jy moet die persoon moet word wat Hy weet jy kan wees. En sy liefde kan jou lewe so verander, as jy Hom sal toelaat. Dis waarvoor die kruis daar is: Geen groter liefde is daar as dit nie: om jou lewe vir jou vriende neer te lê (Joh. 15:13). Dis hoekom niks wat jy kan doen, goed of sleg, sal verander hoe God oor jou voel nie.

Wat is die regte manier om te bid?

Deur Herman Carstens
Is daar ʼn regte manier om met jou beste vriend of pa te gesels? Jy moet hulle respekteer, en daar is ‘n klomp verkeerde maniere, maar daar is nie net een regte manier nie. God is natuurlik meer as net jou vriend of jou pa. Maar gebed is om met God te gesels oor wat in jou lewe gebeur, Hom te bedank, en Hom te prys vir wie Hy is en wat Hy in jou lewe doen. Die grootste reël is om tyd te maak waar jy alleen kan wees en op God kan fokus. Soos met enige verhouding, moet mens daai tyd insit.
Ek bid lekkerder op my knieë of as ek op die vloer sit. Om myself in daai posisie te kry, fokus my gedagtes beter. Maar soms bid ek met oop oë soos ek by die straat af loop, of as ek ry. Jy kan ook deur ʼn Psalm of ʼn stuk van die Bybel bid, om dit jou woorde te maak. Dis deels waarvoor die Bybel daar is – om ons te leer hoe om met God te praat. Baie mense groei deur deur die Bybel te bid. Jy kan ook die Onse Vader of ander gebede jou eie maak en bid. Dit help ook soms om dit hardop te doen. Dis ook belangrik om in groepe te bid – geloof is ʼn gemeenskaplike ding, en gebed behoort ook te wees. Dan moet jy ook onthou dat ʼn gesprek albei kante toe gaan – jy praat met God, maar jy moet Hom ook darem toelaat om iets vir jou te sê. Hy doen dit meestal deur die Bybel, maar om in stilte op God gefokus te wees is ook belangrik. Jy kan natuurlik mal word deur jou gedagtes te “doop” en te maak asof dit God is wat met jou praat. Maar met genoeg opregte Bybellees en nadenke, sal jy goed genoeg weet wat Hy wil sê.
Hier is die Nuwe Testament gebede:
Matt. 6:5-13, Fil. 1:9-11, Fil. 4:6-7, Kol. 1:9-14, Kol. 4:3-4, 1 Tes. 3:9-10, 2 Tes. 1:11-12, Filemon 1:6, Jak. 5:6, 3 Joh. 1:2

Hier is ‘n paar baie goeie aanhalings uit ‘n boek van Tim Keller (‘n Amerikaanse predikant vir wie ons baie respek het) oor gebed:

www.thegospelcoalition.org/article/20-quotes-from-tim-kellers-new-book-on-prayer

Is dit sonde om alkohol te drink?

Deur André en Marianne van Zyl
Hierdie vraag het ‘n kort en ‘n lang antwoord. Die kort antwoord is: Nee, dit is nie sonde om alkohol te gebruik nie. Jesus self het wyn gedrink. Om die waarheid te sê, die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het was om water in wyn te verander by ‘n troue waar daar nie genoeg wyn was vir die gaste nie (Johannes 2:1-11). Nou is baie van julle seker baie bly :-). Daar is wel drie goed wat mens hieroor sal moet by sê om regtig die Christelike standpunt te verstaan.
Die eerste een is dat die Bybel wel sê dat Christene die regering se wette moet gehoorsaam (Romeine 13:1). Alkohol doen so baie skade dat ons regering ‘n wet gemaak het dat niemand onder die ouderdom van 18 alkohol mag koop of gebruik nie. Christene behoort hierdie wet te gehoorsaam. Ek dink wel dat iemand onder die ouderdom van 18 met hulle ouers se toestemming en toesig (as hulle ouers Christene is) wel bietjie alkohol kan gebruik.
Die tweede belangrike ding om aan te dink is dronkenskap. Om alkohol in matigheid te gebruik is nie sonde nie, maar om dronk te word is wel. Die Bybel sê vir ons dat ons versigtig moet wees met alkohol. Efesiërs 5:18 (Nuwe Lewende Vertaling) sê “Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot onbeheerde gedrag (losbandigheid)…”
Een van die groot probleme met alkohol is dat dit die potensiaal het om jou gedrag te verander, en jou allerhande dinge te laat doen wat nie by ‘n Christen pas nie, en wat baie slegte gevolge in jou lewe kan hê, of selfs jou lewe kan verwoes. Alkohol kan ook verslawend wees, en van jou iemand maak wie se hele lewe deur alkohol regeer word. God wil nie hê dat enige van ons slawe moet wees nie. Galasiërs 5:1 sê “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.” Onthou bietjie dat niemand beplan om ‘n alkoholis te word nie. Niemand droom daarvan om eendag aand na aand alleen by die huis te sit en hulleself bewusteloos te drink, en hulle gesondheid, finansies, gesinne en lewens te verwoes nie. Dit gebeur geleidelik. Dikwels begin dit tydens mense se studentedae, wanneer alkohol vir party mense die enigste manier word om lekker partytjie te hou. Dit mag dalk vir sommige mense cool wees om jouself elke aand dronk te drink as jy 18 is, maar as dit die patroon in jou lewe word is jy een van die dae 38, en het ‘n gesin van jou eie, en dan is dit glad nie meer cool om jou elke aand dronk te drink nie…
So, ons het nou gesê dat Christene mag alkohol gebruik, maar hulle moet ook die landswette nakom en hulle mag nie dronk word nie. Daar is nog ‘n derde ding wat Christene moet weet hieroor. As Christen behoort jy nie meer aan jouself nie, maar aan God (Jesus het jou gered en gekoop). Nou is die reel dat die liefde jou gedrag moet bepaal. As ‘n mens alkohol gebruik, moet jy altyd die situasie en die mense rondom jou in ag neem. 1 Korintiërs 8:9 sê “Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ‘n aanleiding tot sonde word nie.” Jy is dalk iemand wat alkohol in matigheid kan gebruik en nie te veel sal drink sodat jy dronk word nie, maar daar mag van jou vriende wees wat ook Christene is maar nie soveel selfbeheersing het nie. As hulle sien dat jy alkohol gebruik kan hulle dalk hulleself in die moeilikheid kry. As jy sien dat daar so iemand naby is en dat jy die oorsaak gaan wees dat hulle sonde doen deur te veel te drink, is dit beter om liewers by daardie geleentheid glad nie te drink nie. Paulus sê in 1 Korintiërs 8:13 “Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.”