Hoe beoordeel ‘n mens mense se argumente wat sê dat God nie bestaan nie?

Deur André van Zyl
Dit is belangrik om te weet dat die gesprek oor die bestaan van God al vir duisende jare aanhou en dat die debat verseker nog nie naastenby verby is nie. Volgens die Bybel het God genoeg inligting en leidrade oor sy bestaan gegee sodat mense wat Hom soek, Hom sal kan kry, maar mense wat egter nie wil glo nie sal nie deur God gedwing word om te glo nie.

Tweedens word hierdie gesprek (soos meeste ander) op verskeie vlakke gevoer. Die gemiddelde ateïstiese website word bestuur deur iemand wat baie kwaad is vir God en/of vir die kerk en wat Richard Dawkins se God Delusion of so iets gelees het en woes beïndruk is daarmee. Hierdie ouens beskryf hulleself as die “Internet infidels” en hulle is grootbek en baie konfronterend. Die meeste Christene is natuurlik net so ondeurdag oor hulle standpunt, voer net sulke swak argumente en sê net sulke lelike goed oor die ateïste. Mens sou dit met die ondersteuners van twee verskillende rugbyspanne kon vergelyk wat lelike goed vir mekaar oor die draad heen skreeu. Dan is daar die ernstige en ingeligte mense wat deelnaam aan die gesprek. Hulle is ingelig, lees baie, dink lank en maak goeie argumente. Daar is ateïste soos Ayn Rand, Julian Baggini en AC Grayling en Christene soos Alvin Plantinga, Gary Habermas, John Lennnox ens. Tussen hulle is die gesprek diep en ernstig en vol goeie argumente aan beide kante van die gesprek.

Derdens is dit belangrik om te verstaan dat enige argument soos ‘n wiskunde som werk. Daar is spesifieke reëls waaraan dit moet voldoen vir dit om ‘n goeie en geldige argument te wees. So bestaan argumente uit stellings wat op mekaar bou om ‘n uiteindelike gevolgtrekking te ondersteun. Byvoorbeeld: Stelling 1: Alle honde is soogdiere; Stelling 2: Fido is ‘n hond; Gevolgtrekking: Fido is ‘n soogdier. Indien een van die stellings vals is of indien die gevolgtrekking nie noodwendig op die stellings volg nie, is die argument ongeldig. Byvoorbeeld Stelling 1: Alle honde is soogdiere; Stelling 2: Fido is bruin; Gevolgtrekking: Fido is ‘n soogdier. Enige argument is dus slegs so sterk soos sy swakste stelling en die gevolgtrekking moet noodwendig op die stellings volg vir die argument om geldig te wees. As jy hierdie beginsel verstaan, kan dit jou baie help om argumente vir of teen ‘n saak te evalueer.

Dan is daar logiese drogredenasies. ‘n Drogredenasie is ‘n redenasie wat op die oppervlak sterk en goed lyk, maar as jy hom analiseer kom jy agter dit is nonsens. In debatte is ‘n drogredenasie (fallacy) geheel en al ongeldig en mens hoef dit nie te beantwoord nie. Daar is baie logiese drogredenasies, maar kom ek wys jou so drie of vier:
As iemand vir jou sou vra: “Weet jou ma jy is dom?” Wat sou jy antwoord? Dit is ‘n drogredenasie want die persoon wat dit vra smokkel ‘n voorveronderstelling in (hy aanvaar jy is dom) wat nie geldig of bewys is nie.
“Guilt by association” is ‘n drogredenasie waarmee jy ‘n argument afskiet omdat iemand in die verlede wat sleg was dit ondersteun het. Al het Hitler met jou saamgestem, beteken dit nie noodwendig jy is verkeerd nie
“Genetic Fallacy”: Die “genetic fallacy” word gepleeg as jy verklaar dat ‘n stelling vals is as gevolg van die plek/persoon waar dit ontstaan het. As ek byvoorbeeld sê die aarde is rond, en ek glo dit want ek het dit in die Huisgenoot gelees, kan jy vir my sê die Huisgenoot is nie ‘n baie goeie bron van wetenskaplike kennis nie, maar dit beteken nie dat my stelling oor die aarde se vorm verkeerd is omdat ek dit by ‘n swak bron gekry het nie.
Die persoonlike aanval: In plaas van om ‘n argument oor die vraag te maak, val jy die persoon persoonlik aan. Byvoorbeeld, “jy is darem maar agter die tyd en dom om dit te glo!” of om iemand se argumente as “lagwekkend” te bestempel. Dit is nie ‘n argument nie, maar ‘n persoonlike aanval. Dit het niks te doen met die waarheid of valsheid van wat jy glo nie.
Die strooiman drogredenasie beteken jy vat iemand anders se standpunt en bied dit op ‘n baie verswakte manier aan en skiet dit dan aan flarde. Byvoorbeeld, “Christene glo sommer enigiets, al is daar geen bewyse of getuienis daarvoor nie.” (Dit is ‘n drogredenasie, want daar is uitstekende getuienis wat die waarheid wat Christene glo ondersteun, en daar is baie Christene wat van nature denkende en selfs skeptiese mense is). Jy is veronderstel om met ander mense se sterkste argumente in gesprek te tree om werklik by ‘n antwoord uit te kom.

Vir ‘n meer komplekse en langer (maar uitstekende) artikel wat hierby aansluit, kyk gerus na http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/