Hoe kon God vir Abraham vra om sy kind te offer? Wat sê dit van sy karakter?

Deur André van Zyl
Natuurlik is dit ‘n geweldig vreemde en ontstellende gedagte. Dit was vir Abraham ook ontstellend, maar om geheel en al ander redes as vir jou en my, en dit was glad nie vir hom verrassend nie. Hoekom nie verrassend nie? Want alle mense in die Midde-Ooste op daardie staduim het geweet dat die eersgebore seun van enige familie aan God behoort (maak nie saak watter god hulle aanbid het nie). Dit het dikwels beteken die eersgeborene is as offer doodgemaak en dus het Abraham geweet wat hier aan die gang is. Daarom protesteer hy nie oor die idee nie. Hy sê nie: “Dis ‘n belaglike gedagte? Wat se belaglike ding om van my te vra!” nie. Hy weet dit is wat gevra gaan word en dus doen hy wat gedoen moet word. Natuurlik was dit nooit die ware God se gedagte dat hy sy seun sou doodmaak nie. Daar is nie een geval waar die God van die Bybel ooit vra dat ‘n kind geoffer moet word nie. Dit is teen sy wil en so iets reflekteer nie wie Hy is nie.

Die mense van Abraham se tyd en plek het afgode aanbid en God het grotendeels van voor af met Abraham begin. Dus kom roep Hy Abraham uit sy kultuur met sy agtergrond om Hom te volg. Dan laat hy vir Abraham op n hoë ouderdom ‘n seun gebore word (Isak), ‘n wonderwerk! Abraham weet nie wie hierdie God regtig is nie. Sy enigste kennis van “God” is dit wat uit sy kultuur kom. Nou kom God na hom toe en vra iets wat hy geheel en al te wagte was. Gaan offer jou seun. Hy doen wat hy beveel word, maar God leer hom ‘n HUGE les oor wie die ware God is deur hom op die laaste oomblik te stop en deur ‘n ram (‘n plaasvervanger) te voorsien. Eerstens leer Abraham dat God nie soos die “gode” van Ur menslike offers verwag nie. Hy is regverdig en daarom moet iemand betaal vir die skuld van die mens, maar Hy voorsien self die betaling. Tweedens leer Abraham dat God gehoorsaam wil word en dat hy verwag dat jy Hom met alles vertrou (al maak Hy nie altyd uit jou denke en/of kultuur geheel en al sin nie). Nou weet Abraham dat die ware God geheel en al anders is as die “gode” wat hy van gehoor het en dat Hy werklik bestaan. Hy leer selfs van genade en persoonlike verhouding met God.

Is die Bybel nie al oor en oor vertaal sodat ons eintlik glad nie meer weet wat regtig daarin behoort te staan nie?

Deur Johan Fuhri
Het ons enige manier om te weet of dit wat ons vandag in ons moderne Afrikaanse en Engelse Bybels lees, enigsins ooreenstem met dit wat die oorspronklike skrywer in gedagte gehad het? Dit is ‘n uiters belangrike vraag – as ons nie vertroue het dat ons Bybels die oorspronklike geskrifte se boodskap dra nie, hoe kan ons weet wat ons moet glo? Kom ons kyk bietjie of ons rede tot kommer het.
Daar is twee aspekte waarna ons moet kyk om die vraag behoorlik aan te spreek.
1. Het daar enige foute ingesluip deur die eeue heen toe die manuskripte oor en oor per hand gekopiëer is?
2. Word die oorspronklike boodskap nie verdraai wanneer ons dit vertaal vanuit Hebreeus/Aramees/Grieks nie?
Selfs met ons moderne tegnologie weet ons dat as ‘n mens ‘n afskrif van ‘n afskrif van ‘n afskrif maak, dit uiteindelik onleesbaar gaan wees. Ons weet ook dat Moses, Dawid en Paulus nie ‘n Xerox-masjien gehad het nie, en die manuskripte moes per hand oorgeskryf word wanneer die vorige een opgebruik was. Kon daar foute insluip?

Toe die Here die Ou Testament aan die Hebreërs toevertrou het, het Hy dit nie sommer net lukraak gedoen nie. Die Hebreërs is van die mees pynlik perfeksionistiese mense op ons planeet aarde. Hulle het mense gehad wie se voltydse werk dit was om manuskripte te kopiëer, hulle was die Skrifgeleerdes genoem (Scribes in Engels). Daar was ook verskeie prosesse in plek gestel om seker te maak dat elke nuwe manuskrip in geweldige detail nagegaan is vir foute. In 1947 word die Dooie See rolle ontdek en kry ons ‘n geleentheid om die akkuraatheid van hierdie proses te toets. Daar is ook ‘n Griekse vertaling van die oorspronklike Hebreeuse Ou Testament (genaamd die Septuagint) wat ons kan gebruik as kruisverwysing. Ons weet vandag dat die Hebreeus/Aramese Ou Testament wat gebruik word vir moderne vertalings waarskynlik met minder as 1% verskil van die oorspronklike woorde wat die skrywers neergeskryf het.
Die Nuwe Testament bestaan egter uit ‘n aantal los briewe wat aan verskeie mense en gemeentes geskryf is. Aangesien hierdie briewe nie aanvanklik gesien is as ‘heilige geskrifte’ nie, is daar nie soveel moeite gedoen om hulle akkuraat oor te skryf nie. Die mense van die tyd het egter gesorg dat daar heelwat kopieë geskryf is, en vandag het ons meer as 5300 aparte stukkies van hand-geskrewe manuskripte wat deel maak van die Nuwe Testament. Daar is genoeg kopieë van meeste dele van die oorspronklike Nuwe Testament in Grieks dat ons hulle kan vergelyk met mekaar en dus uitvind waar en wanneer daar veranderinge in die kopie-proses ingesluip het. Ons weet dus vandag dat die Griekse Nuwe Testament waarop ons moderne vertalings gebaseer is, met minder as 5% verskil van die oorspronklike skrywers se woorde. Die verskille waaroor ons wel nog onseker is, het hoegenaamd geen invloed op die lering van die Nuwe Testament nie.
Ons het dus genoeg rede om verseker te weet dat die Hebreeus, Aramees en Griekse weergawes wat ons vandag het vir alle praktiese doeleindes presies ooreenstem met dit wat die oorspronklike skrywers neergeskryf het.

Nou kom die tweede, en moeiliker taak, om die Bybel te vertaal na ‘n taal wat ons kan verstaan. Mense wat skepties is oor ons geloof laat dit soms klink asof die Bybel vanuit Hebreeus/Grieks/Aramees vertaal is in een taal (bv Latyns) en daarna vanuit daardie taal na ‘n ander taal ensovoorts, sodat daar oral langs die pad foute kon insluip, maar dit is nie hoe dit gedoen word nie. Die vertalings wat ons vandag in Engels en Afrikaans gebruik, word uit die oorspronklike tale waarin dit geskryf is vertaal. Dit kan egter nogal ‘n uitdaging wees! Omdat Afrikaans en Engels so geweldig verskil van die oorspronklike Bybeltale is dit prakties onmoontlik om alles woord-vir-woord te vertaal, dit sou totaal onverstaanbaar vir ons wees! Gelukkig is daar slim mense wat al hierdie probleem probeer aanspreek het, en daar is ‘n paar verskillende maniere om ‘n Afrikaans/Engelse vertaling te maak.

Vrye vertaling
In hierdie tegniek word die gedeelte gelees, die vertaler skryf dan vrylik in sy eie woorde neer wat hy dink die oorspronklike skrywer probeer sê het. Dikwels sal die vertaler gebruik maak van moderne metafore of sê-goed om die gedagte oor te dra soos hy dit verstaan. Dit is dus ‘n geïnterpreteerde weergawe van die oorspronklike manuskrip. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : Die Boodskap, The Message.

Gedagte-vir-gedagte (Dynamic Equivalence)
Hier word die oorspronklike gedagtes vertaal na ‘n moderne akkurate ekwivalent wat dieselfde gedagte oordra, maar nie noodwendig dieselfde woorde of volgorde gebruik nie. Hier sal die woorde en sinne heelwat nader wees aan die van die oorspronklike taal s’n, maar nie ten koste van leesbaarheid of verstaanbaarheid nie. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : 1983 Afrikaanse Vertaling (die sogenaamde “Nuwe Vertaling”), en die Engelse New International Version.

Woord-vir-woord (Formal Equivalence)
Die oorspronklike woorde word so na moontlik direk vertaal, en soveel moontlik word die volgorde van die woorde en sinne ook behou. Volgorde kan egter rondgeskuif word om ‘n leesbare sin te maak. Die intensie van so ‘n vertaling is om so na moontlik aan die oorspronklike taal te kom sonder enige interpretasie van die oorspronklike manuskrip se woorde. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : 1953 Afrikaanse Vertaling (die sogenaamde “Ou Vertaling”), en in Engels die King Jaemes Version.

Spesialis vertalings
Laastens is daar ook ‘n aantal vertalings wat met ‘n meer spesifieke doel gemaak is. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Amplified Bible of ander soortgelyke vertalings, waar daar besluit is om elke gedeelte omslagtig te verduidelik met soveel woorde as wat nodig is om die tegnies korrekte betekenis van die oorspronklike woorde na vore te bring. Daar word ook dikwels van addisionele kommentaar gebruik gemaak om seker te maak dat die leser presies weet wat die oorspronklike taal se bewoording beteken.

So watter een is die beste, en watter een behoort jy te lees? Wel, dit hang af van wat jy probeer doen. As jy probeer om die storie van Dawid te volg, sal Die Boodskap lekker lees en alles vir jou sê wat jy nodig het om te weet. Probeer jy uitvind wat Jesus se presiese emosies was in ‘n spesifieke teks? Probeer eerder ‘n woord-vir-woord vertaling of een van die spesialis vertalings.
Op die ou end van die dag moet ons onthou dat die Bybel net jou lewe kan aanraak as jy hom lees. Die beste Bybervertaling vir jou is dus die een wat jy LEES!

Is daar boeke wat eintlik in die Bybel moes wees wat verlore geraak het?

Deur Marianne van Zyl
Die Bybel is nie net een boek nie, maar eintlik ‘n versameling boeke (sien die artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/wie-presies-het-die-bybel-geskryf/ vir meer inligting). Daar bestaan egter ander antieke geskrifte wat uit min of meer dieselfde tye as die Bybelboeke dateer wat nie in die Bybel opgeneem is nie. Hierdie boeke word “apokriewe” boeke genoem, en mense praat soms daarvan as “verlore boeke van die Bybel”. Hierdie boeke is egter nie regtig verlore in die sin dat hulle heeltemal weggesteek of verduister is nie. Om die waarheid te sê, ‘n klomp daarvan is in Afrikaans vertaal en beskikbaar vir ons om vandag te lees as ons wil (sien die boek “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie, uitgegee deur CUM, 2005). Die apokriewe boeke is egter nie in die Bybel opgeneem nie omdat hulle nie dieselfde hoeveelheid gesag dra as die boeke in die Bybel nie, en nie gesien word as die Woord van God nie.

Die besluite oor die in- of uitsluit van boeke by die Bybel en die gevolglike ontstaan van “apokriewe” boeke is verskillend vir die Ou en die Nuwe Testament. Daar is ‘n klompie boeke by die Ou Testament bygevoeg wat in die Rooms Katolieke kerk se Bybel opgeneem is, maar nie in die Bybel wat deur die Protestantse kerke (dit is nou kerke soos die NG kerk, Hervormde kerk, Gereformeerde kerk, asook kerkgroepe soos Doxa Deo, Lewende Woord, die Baptiste kerke en nog baie ander) gebruik word nie. Hierdie boeke is ‘n bietjie later as die ander boeke (wat in ons Bybels verskyn) geskryf, en is eers later deur die Katolieke kerk as gesagvol erken. Dit word nie deur die Protestantse kerke as gesagvol gesien nie. Dit sluit boeke in soos Tobit, Judit, Die Wysheid van Salomo en 1 en 2 Makkabeërs.

Die boeke wat in die Nuwe Testament opgeneem is wat ons vandag nog kan lees, is almal in die eerste 100 jaar na Jesus se lewe geskryf. Dit is neergeskryf deur mense wat saam met Jesus geleef het en Hom persoonlik geken het, of wat hulle inligting gekry het by mense wat Jesus persoonlik geken het. Daar was dus in daardie tyd nog genoeg ooggetuies van Jesus se lewe op aarde wat sou kon protesteer as die skrywers van die boeke nonsens gepraat het. Ander boeke wat geskryf is oor Jesus se lewe of die lewens van die apostels is almal heelwat later eers geskryf – van die 2de tot die 9de eeu na Christus. Dit sluit in boeke soos die Evangelie van Tomas, die Evangelie van Maria, die Handelinge van Petrus, en die Openbaring van Paulus. Die feit dat die boeke so laat geskryf is skep twee probleme. In die eerste plek beteken dit dat ons nie weet wie dit geskryf het nie en dat die regte skrywer ‘n skuilnaam gebruik het om sy boek belangrik te laat klink (bv die Evangelie van Petrus, wat waarskynlik in +/- 150 na Christus geskryf is, en dus nie deur Petrus geskryf kon gewees het nie, want hy was toe al dood!). Die tweede probleem met die laat datums waarop die apokriewe boeke geskryf is is dat die skrywers te ver in tyd verwyder was van Jesus en sy direkte volgelinge, en dus nie meer so akkuraat kon wees nie (dit sou baie moeiliker wees om hulle feite na te gaan of met ooggetuies te praat om seker te maak wat hulle neergeskryf het het regtig gebeur).

Die besluit oor watter Nuwe Testamentiese boeke om in die Bybel in te sluit en watter om uit te laat is oor die eerste paar eeue na Jesus se lewe gefinaliseer. Die briewe en ander skrywes van die kerkvaders (die tweede generasie kerkleiers na die apostels) gee vir ons belangrike leidrade oor watter boeke deur die vroegste Christene beskou is as gesaghebbend en deur God geïnspireerd. Irenaeus, byvoorbeeld, verwys reeds na 21 van die 27 boeke van die Nuwe Testament in 185 na Christus. Die formalisering van die besluit oor watter boeke deel moet uitmaak van die Bybel is gedoen by verskillende kerkvergaderings (die Konsilie van Laodisea, 363 n.C., die Konsilie van Hippo, 393 n.C. en die Konsilie van Carthage, 397 n.C.). Hierdie vergaderings het egter nie sommer op hulle eie ‘n klomp “random” boeke gekies wat hulle lus was om in die Bybel in te sluit nie, maar het juis probeer om net aan te dui watter boeke reeds wyd en syd deur die destydse kerk as gesaghebbend gesien is.
Lees gerus meer oor die samestelling van die Bybel by
http://www.gotquestions.org/canon-Bible.html

Wie presies het die Bybel geskryf?

Deur Marianne van Zyl
Ons dink dikwels aan die Bybel as een boek, maar dit is eintlik ‘n hele biblioteek, of versameling boeke! Dit bestaan uit 66 boeke wat deur meer as 40 mense neergepen is oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar. Die eerste 39 boeke noem ons die Ou Testament. Dit is boeke wat geskryf is voor Jesus se geboorte, oor ‘n baie lang tydperk (vanaf ongeveer 1400 tot 400 jaar voor Christus se geboorte) deur ‘n verskeidenheid mense. Die laaste 27 boeke in die Bybel noem ons die Nuwe Testament. Dit bestaan uit vier evangelies, oftewel weergawes van Jesus se lewensverhaal, ‘n geskiedkundige rekord van die begin/ontstaan van die kerk (Handelinge), ‘n versameling briewe wat deur volgelinge van Jesus geskryf is, en die boek Openbaring wat ‘n optekening is van ‘n visioen (of openbaring) oor die eindtyd, die hel en die hemel. Die boeke wat in die Nuwe Testament opgeneem is, is almal in ‘n relatief kort tyd nadat Jesus op aarde was geskryf deur mense wat Hom óf self persoonlik geken het, óf hulle inligting gekry het by mense wat Hom persoonlik geken het. Dit is kort genoeg na Jesus se dood geskryf dat daar nog baie ooggetuies gelewe het wat die feite of aansprake in die boeke kon bevraagteken as dit nie waar was nie.
Ten spyte van die feit dat die Bybel deur ongeveer 40 verskillende mense uit verskillende beroepe en agtergronde en oor so ‘n lang tydperk neergeskryf is, is daar ‘n goue draad wat daardeur loop, wat nie menslik verklaarbaar is nie. Die akkuraatheid daarvan in terme van die geskiedenis wat dit beskryf, die argeologie en die profesieë daarin is ook buitengewoon. Dit is omdat God deur sy Heilige Gees die skrywers van die Bybelboeke geïnspireer en gelei het toe hulle die boeke neergeskryf het. Die Bybel is nie net mense se woorde of idees oor God nie, maar God se openbaring van Homself en sy wil en sy plan vir die mensdom. 2 Timoteus 3:16 sê “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek…” Hoewel hierdie vers deur Paulus geskryf is en waarskynlik op daardie stadium hoofsaaklik verwys het na die boeke van die Ou Testament, sien ons dat Petrus ook Paulus se briewe gesien het as deel van die Skrif (sien 2 Petrus 3:15-16). Ons sien ook dat Paulus na ‘n gedeelte in die evangelie van Lukas verwys as deel van die Skrif (sien 1 Timoteus 5:18 en Lukas 10:7).
Die boeke van die Bybel is dus uiteindelik indirek deur God self geskryf, en is ‘n onbeskryflik waardevolle geskenk aan ons as mense waardeur ons Hom kan leer ken.
Lees gerus ook hierdie artikel oor die vraag of die Bybel regtig God se woord is:
http://www.gotquestions.org/Bible-God-Word.html