Hoe beoordeel ‘n mens mense se argumente wat sê dat God nie bestaan nie?

Deur André van Zyl
Dit is belangrik om te weet dat die gesprek oor die bestaan van God al vir duisende jare aanhou en dat die debat verseker nog nie naastenby verby is nie. Volgens die Bybel het God genoeg inligting en leidrade oor sy bestaan gegee sodat mense wat Hom soek, Hom sal kan kry, maar mense wat egter nie wil glo nie sal nie deur God gedwing word om te glo nie.

Tweedens word hierdie gesprek (soos meeste ander) op verskeie vlakke gevoer. Die gemiddelde ateïstiese website word bestuur deur iemand wat baie kwaad is vir God en/of vir die kerk en wat Richard Dawkins se God Delusion of so iets gelees het en woes beïndruk is daarmee. Hierdie ouens beskryf hulleself as die “Internet infidels” en hulle is grootbek en baie konfronterend. Die meeste Christene is natuurlik net so ondeurdag oor hulle standpunt, voer net sulke swak argumente en sê net sulke lelike goed oor die ateïste. Mens sou dit met die ondersteuners van twee verskillende rugbyspanne kon vergelyk wat lelike goed vir mekaar oor die draad heen skreeu. Dan is daar die ernstige en ingeligte mense wat deelnaam aan die gesprek. Hulle is ingelig, lees baie, dink lank en maak goeie argumente. Daar is ateïste soos Ayn Rand, Julian Baggini en AC Grayling en Christene soos Alvin Plantinga, Gary Habermas, John Lennnox ens. Tussen hulle is die gesprek diep en ernstig en vol goeie argumente aan beide kante van die gesprek.

Derdens is dit belangrik om te verstaan dat enige argument soos ‘n wiskunde som werk. Daar is spesifieke reëls waaraan dit moet voldoen vir dit om ‘n goeie en geldige argument te wees. So bestaan argumente uit stellings wat op mekaar bou om ‘n uiteindelike gevolgtrekking te ondersteun. Byvoorbeeld: Stelling 1: Alle honde is soogdiere; Stelling 2: Fido is ‘n hond; Gevolgtrekking: Fido is ‘n soogdier. Indien een van die stellings vals is of indien die gevolgtrekking nie noodwendig op die stellings volg nie, is die argument ongeldig. Byvoorbeeld Stelling 1: Alle honde is soogdiere; Stelling 2: Fido is bruin; Gevolgtrekking: Fido is ‘n soogdier. Enige argument is dus slegs so sterk soos sy swakste stelling en die gevolgtrekking moet noodwendig op die stellings volg vir die argument om geldig te wees. As jy hierdie beginsel verstaan, kan dit jou baie help om argumente vir of teen ‘n saak te evalueer.

Dan is daar logiese drogredenasies. ‘n Drogredenasie is ‘n redenasie wat op die oppervlak sterk en goed lyk, maar as jy hom analiseer kom jy agter dit is nonsens. In debatte is ‘n drogredenasie (fallacy) geheel en al ongeldig en mens hoef dit nie te beantwoord nie. Daar is baie logiese drogredenasies, maar kom ek wys jou so drie of vier:
As iemand vir jou sou vra: “Weet jou ma jy is dom?” Wat sou jy antwoord? Dit is ‘n drogredenasie want die persoon wat dit vra smokkel ‘n voorveronderstelling in (hy aanvaar jy is dom) wat nie geldig of bewys is nie.
“Guilt by association” is ‘n drogredenasie waarmee jy ‘n argument afskiet omdat iemand in die verlede wat sleg was dit ondersteun het. Al het Hitler met jou saamgestem, beteken dit nie noodwendig jy is verkeerd nie
“Genetic Fallacy”: Die “genetic fallacy” word gepleeg as jy verklaar dat ‘n stelling vals is as gevolg van die plek/persoon waar dit ontstaan het. As ek byvoorbeeld sê die aarde is rond, en ek glo dit want ek het dit in die Huisgenoot gelees, kan jy vir my sê die Huisgenoot is nie ‘n baie goeie bron van wetenskaplike kennis nie, maar dit beteken nie dat my stelling oor die aarde se vorm verkeerd is omdat ek dit by ‘n swak bron gekry het nie.
Die persoonlike aanval: In plaas van om ‘n argument oor die vraag te maak, val jy die persoon persoonlik aan. Byvoorbeeld, “jy is darem maar agter die tyd en dom om dit te glo!” of om iemand se argumente as “lagwekkend” te bestempel. Dit is nie ‘n argument nie, maar ‘n persoonlike aanval. Dit het niks te doen met die waarheid of valsheid van wat jy glo nie.
Die strooiman drogredenasie beteken jy vat iemand anders se standpunt en bied dit op ‘n baie verswakte manier aan en skiet dit dan aan flarde. Byvoorbeeld, “Christene glo sommer enigiets, al is daar geen bewyse of getuienis daarvoor nie.” (Dit is ‘n drogredenasie, want daar is uitstekende getuienis wat die waarheid wat Christene glo ondersteun, en daar is baie Christene wat van nature denkende en selfs skeptiese mense is). Jy is veronderstel om met ander mense se sterkste argumente in gesprek te tree om werklik by ‘n antwoord uit te kom.

Vir ‘n meer komplekse en langer (maar uitstekende) artikel wat hierby aansluit, kyk gerus na http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/

Ek dink nie gebed bring niks bonatuurliks teweeg nie, dit is net die krag van meditasie en positiewe denke.

Deur André van Zyl
Hierdie is een van die interessantste vrae waaroor mense wonder. Alle mense wat dink, wonder oor die effektiwiteit van gebed. Hoe werk dit? Hoekom “werk” dit soms en soms nie?

Die eerste ding wat ek ter antwoord sou wou sê is dat indien God bestaan (en ek is oortuig Hy doen), is Hy in alle opsigte baie hoër as die heel beste mens. Om die waarheid te sê, die verskil en vermoë tussen my en God is baie baie groter as tussen ‘n ma/pa en ‘n pasgebore babatjie. Kom ons gebruik ‘n baie klein babatjie se kommunikasie met haar ma/pa as analogie vir gebed. Party keer kry sy wat sy vra, ander kere nie. Party keer gee jou ma toe, ander kere nie. Dit waarvoor jy vra kry jy soms, ander kere nie. Het dit dan enige nut om met jou ma/pa te probeer kommunikeer? Is dit nie maar net positiewe denke nie? Natuurlik het dit geweldige nut. Jou ma/pa wil hê dat jy met hulle moet kommunikeer. Die babatjie beleef dit as onseker en verstaan nie waarom dinge gebeur soos hulle gebeur nie. Om die waarheid te sê, die ouers kan dit nie aan die baba verduidelik nie. Waarom nie? Omdat die baba nie die vermoë het om dit naastenby te verstaan nie. As mense oorskat ons dikwels ons eie vermoëns, maar een ding staan deur die geskiedenis van die mensdom. Gebed het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16), want die Een tot wie ons bid is Almagtig.

Hoe kon God vir Abraham vra om sy kind te offer? Wat sê dit van sy karakter?

Deur André van Zyl
Natuurlik is dit ‘n geweldig vreemde en ontstellende gedagte. Dit was vir Abraham ook ontstellend, maar om geheel en al ander redes as vir jou en my, en dit was glad nie vir hom verrassend nie. Hoekom nie verrassend nie? Want alle mense in die Midde-Ooste op daardie staduim het geweet dat die eersgebore seun van enige familie aan God behoort (maak nie saak watter god hulle aanbid het nie). Dit het dikwels beteken die eersgeborene is as offer doodgemaak en dus het Abraham geweet wat hier aan die gang is. Daarom protesteer hy nie oor die idee nie. Hy sê nie: “Dis ‘n belaglike gedagte? Wat se belaglike ding om van my te vra!” nie. Hy weet dit is wat gevra gaan word en dus doen hy wat gedoen moet word. Natuurlik was dit nooit die ware God se gedagte dat hy sy seun sou doodmaak nie. Daar is nie een geval waar die God van die Bybel ooit vra dat ‘n kind geoffer moet word nie. Dit is teen sy wil en so iets reflekteer nie wie Hy is nie.

Die mense van Abraham se tyd en plek het afgode aanbid en God het grotendeels van voor af met Abraham begin. Dus kom roep Hy Abraham uit sy kultuur met sy agtergrond om Hom te volg. Dan laat hy vir Abraham op n hoë ouderdom ‘n seun gebore word (Isak), ‘n wonderwerk! Abraham weet nie wie hierdie God regtig is nie. Sy enigste kennis van “God” is dit wat uit sy kultuur kom. Nou kom God na hom toe en vra iets wat hy geheel en al te wagte was. Gaan offer jou seun. Hy doen wat hy beveel word, maar God leer hom ‘n HUGE les oor wie die ware God is deur hom op die laaste oomblik te stop en deur ‘n ram (‘n plaasvervanger) te voorsien. Eerstens leer Abraham dat God nie soos die “gode” van Ur menslike offers verwag nie. Hy is regverdig en daarom moet iemand betaal vir die skuld van die mens, maar Hy voorsien self die betaling. Tweedens leer Abraham dat God gehoorsaam wil word en dat hy verwag dat jy Hom met alles vertrou (al maak Hy nie altyd uit jou denke en/of kultuur geheel en al sin nie). Nou weet Abraham dat die ware God geheel en al anders is as die “gode” wat hy van gehoor het en dat Hy werklik bestaan. Hy leer selfs van genade en persoonlike verhouding met God.

Wat maak mens ‘n Christen?

Deur Marianne van Zyl
In Handelinge 11:26 lees ons dat die gelowiges in die stad Antiogië (vandag in Turkye geleë) vir die eerste keer “Christene” genoem is. Die woord is natuurlik afgelei van “Christus”, wat verwys het na Jesus as die Messias of Gesalfde, en dui aan dat iemand ‘n volgeling van Christus is. Die bewoording in Handelinge 11:26 wat aandui dat dit “gelowiges” is wat Christene genoem is, is alreeds ‘n goeie aanduiding van wat ‘n mens ‘n Christen maak – geloof in die Here Jesus Christus. Die vroeë Christene het geglo dat Jesus gesterf het vir ons sonde (d.w.s. betaal het vir ons skuld en die dinge wat ons verkeerd doen) en daarna uit die dood uit opgestaan het, en aan die einde van die tyd weer terugkom om oor alles te regeer (1 Kor. 15:3-4, 25).
Christenskap verskil van al die ander groot wêreldgodsdienste in verskeie opsigte, maar die grootste verskil is in die Christelike siening oor hoe ‘n mens in ‘n regte verhouding met God te staan kom. Die meeste ander godsdienste is gebaseer op die beginsel dat ‘n mens deur goeie dinge wat jy doen, of spesifieke reëls wat jy nakom, jou saak met God regmaak. Die Christelike geloof sê egter dat dit as gevolg van wat Jesus vir ons gedoen het vir ons moontlik is om in die regte verhouding met God te staan. Efesiërs 2:8-9 sê “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”

So wat maak mens ‘n Christen? Geloof in Jesus Christus. Maar wat beteken dit om in Jesus te glo? Dit beteken nie om net te glo dat Hy bestaan of bestaan het nie. Jakobus 2:19 sê dat die duiwels ook glo dat daar een God is, maar dit is nie in hulle geval ‘n reddende geloof nie. ‘n Reddende geloof is om al jou gewig, jou hele menswees, op Jesus te gooi, omdat jy glo dat Hy die Seun van God is wat vir jou sonde betaal het en wat opgestaan het uit die dood. Dit beteken dat mens jou hele lewe aan Hom toevertrou en in ‘n verhouding met Hom tree. Daardie verhouding met Hom sal jou verander, dit sal ook vrug dra in jou lewe soos wat jy Hom al beter leer ken en meer soos Hy wil word.

Wat van mense wat hulleself Christene noem, maar wie se lewens nie wys dat hulle volgelinge van Jesus is nie? Wel, niemand van ons wat onsself Christene noem, leef perfekte lewens nie. Ons almal doen nog gedurig dinge verkeerd (Romeine 7:18-19), en genadiglik is ons redding nie afhanklik van hoe goed ons lewe nie, want anders sou niemand gered wees nie (Romeine 3:23)! Die Bybel leer ons egter dat as ons in Jesus glo, ons die Heilige Gees kry (1 Joh. 4:2), en dit beteken dat daar sekere eienskappe is wat in ons lewens na vore behoort te kom soos wat die Heilige Gees in ons werk (Gal. 5:22). Daar staan ook in Jakobus 2: “Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks (vers 17)….’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ‘n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.(vers 26)” (Nuwe Lewende Vertaling). Maar dit is nie in die eerste plek ons werk om na ander mense te kyk en te probeer bepaal hoe opreg hulle geloof is nie, dit is eerder belangrik om te kyk na jou eie hart en jouself te vra of jy al jou vertroue in Jesus gestel het. Vra jouself af of jy regtig vir Jesus volg, en of jou geloof ‘n lewende geloof is wat ook oorgaan tot dade.
Lees gerus ook ons artikel “Hoe kan mens 100% seker wees jy gaan hemel toe?”

Is die Bybel nie al oor en oor vertaal sodat ons eintlik glad nie meer weet wat regtig daarin behoort te staan nie?

Deur Johan Fuhri
Het ons enige manier om te weet of dit wat ons vandag in ons moderne Afrikaanse en Engelse Bybels lees, enigsins ooreenstem met dit wat die oorspronklike skrywer in gedagte gehad het? Dit is ‘n uiters belangrike vraag – as ons nie vertroue het dat ons Bybels die oorspronklike geskrifte se boodskap dra nie, hoe kan ons weet wat ons moet glo? Kom ons kyk bietjie of ons rede tot kommer het.
Daar is twee aspekte waarna ons moet kyk om die vraag behoorlik aan te spreek.
1. Het daar enige foute ingesluip deur die eeue heen toe die manuskripte oor en oor per hand gekopiëer is?
2. Word die oorspronklike boodskap nie verdraai wanneer ons dit vertaal vanuit Hebreeus/Aramees/Grieks nie?
Selfs met ons moderne tegnologie weet ons dat as ‘n mens ‘n afskrif van ‘n afskrif van ‘n afskrif maak, dit uiteindelik onleesbaar gaan wees. Ons weet ook dat Moses, Dawid en Paulus nie ‘n Xerox-masjien gehad het nie, en die manuskripte moes per hand oorgeskryf word wanneer die vorige een opgebruik was. Kon daar foute insluip?

Toe die Here die Ou Testament aan die Hebreërs toevertrou het, het Hy dit nie sommer net lukraak gedoen nie. Die Hebreërs is van die mees pynlik perfeksionistiese mense op ons planeet aarde. Hulle het mense gehad wie se voltydse werk dit was om manuskripte te kopiëer, hulle was die Skrifgeleerdes genoem (Scribes in Engels). Daar was ook verskeie prosesse in plek gestel om seker te maak dat elke nuwe manuskrip in geweldige detail nagegaan is vir foute. In 1947 word die Dooie See rolle ontdek en kry ons ‘n geleentheid om die akkuraatheid van hierdie proses te toets. Daar is ook ‘n Griekse vertaling van die oorspronklike Hebreeuse Ou Testament (genaamd die Septuagint) wat ons kan gebruik as kruisverwysing. Ons weet vandag dat die Hebreeus/Aramese Ou Testament wat gebruik word vir moderne vertalings waarskynlik met minder as 1% verskil van die oorspronklike woorde wat die skrywers neergeskryf het.
Die Nuwe Testament bestaan egter uit ‘n aantal los briewe wat aan verskeie mense en gemeentes geskryf is. Aangesien hierdie briewe nie aanvanklik gesien is as ‘heilige geskrifte’ nie, is daar nie soveel moeite gedoen om hulle akkuraat oor te skryf nie. Die mense van die tyd het egter gesorg dat daar heelwat kopieë geskryf is, en vandag het ons meer as 5300 aparte stukkies van hand-geskrewe manuskripte wat deel maak van die Nuwe Testament. Daar is genoeg kopieë van meeste dele van die oorspronklike Nuwe Testament in Grieks dat ons hulle kan vergelyk met mekaar en dus uitvind waar en wanneer daar veranderinge in die kopie-proses ingesluip het. Ons weet dus vandag dat die Griekse Nuwe Testament waarop ons moderne vertalings gebaseer is, met minder as 5% verskil van die oorspronklike skrywers se woorde. Die verskille waaroor ons wel nog onseker is, het hoegenaamd geen invloed op die lering van die Nuwe Testament nie.
Ons het dus genoeg rede om verseker te weet dat die Hebreeus, Aramees en Griekse weergawes wat ons vandag het vir alle praktiese doeleindes presies ooreenstem met dit wat die oorspronklike skrywers neergeskryf het.

Nou kom die tweede, en moeiliker taak, om die Bybel te vertaal na ‘n taal wat ons kan verstaan. Mense wat skepties is oor ons geloof laat dit soms klink asof die Bybel vanuit Hebreeus/Grieks/Aramees vertaal is in een taal (bv Latyns) en daarna vanuit daardie taal na ‘n ander taal ensovoorts, sodat daar oral langs die pad foute kon insluip, maar dit is nie hoe dit gedoen word nie. Die vertalings wat ons vandag in Engels en Afrikaans gebruik, word uit die oorspronklike tale waarin dit geskryf is vertaal. Dit kan egter nogal ‘n uitdaging wees! Omdat Afrikaans en Engels so geweldig verskil van die oorspronklike Bybeltale is dit prakties onmoontlik om alles woord-vir-woord te vertaal, dit sou totaal onverstaanbaar vir ons wees! Gelukkig is daar slim mense wat al hierdie probleem probeer aanspreek het, en daar is ‘n paar verskillende maniere om ‘n Afrikaans/Engelse vertaling te maak.

Vrye vertaling
In hierdie tegniek word die gedeelte gelees, die vertaler skryf dan vrylik in sy eie woorde neer wat hy dink die oorspronklike skrywer probeer sê het. Dikwels sal die vertaler gebruik maak van moderne metafore of sê-goed om die gedagte oor te dra soos hy dit verstaan. Dit is dus ‘n geïnterpreteerde weergawe van die oorspronklike manuskrip. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : Die Boodskap, The Message.

Gedagte-vir-gedagte (Dynamic Equivalence)
Hier word die oorspronklike gedagtes vertaal na ‘n moderne akkurate ekwivalent wat dieselfde gedagte oordra, maar nie noodwendig dieselfde woorde of volgorde gebruik nie. Hier sal die woorde en sinne heelwat nader wees aan die van die oorspronklike taal s’n, maar nie ten koste van leesbaarheid of verstaanbaarheid nie. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : 1983 Afrikaanse Vertaling (die sogenaamde “Nuwe Vertaling”), en die Engelse New International Version.

Woord-vir-woord (Formal Equivalence)
Die oorspronklike woorde word so na moontlik direk vertaal, en soveel moontlik word die volgorde van die woorde en sinne ook behou. Volgorde kan egter rondgeskuif word om ‘n leesbare sin te maak. Die intensie van so ‘n vertaling is om so na moontlik aan die oorspronklike taal te kom sonder enige interpretasie van die oorspronklike manuskrip se woorde. Voorbeelde van vertalings wat hierdie tegniek gebruik : 1953 Afrikaanse Vertaling (die sogenaamde “Ou Vertaling”), en in Engels die King Jaemes Version.

Spesialis vertalings
Laastens is daar ook ‘n aantal vertalings wat met ‘n meer spesifieke doel gemaak is. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Amplified Bible of ander soortgelyke vertalings, waar daar besluit is om elke gedeelte omslagtig te verduidelik met soveel woorde as wat nodig is om die tegnies korrekte betekenis van die oorspronklike woorde na vore te bring. Daar word ook dikwels van addisionele kommentaar gebruik gemaak om seker te maak dat die leser presies weet wat die oorspronklike taal se bewoording beteken.

So watter een is die beste, en watter een behoort jy te lees? Wel, dit hang af van wat jy probeer doen. As jy probeer om die storie van Dawid te volg, sal Die Boodskap lekker lees en alles vir jou sê wat jy nodig het om te weet. Probeer jy uitvind wat Jesus se presiese emosies was in ‘n spesifieke teks? Probeer eerder ‘n woord-vir-woord vertaling of een van die spesialis vertalings.
Op die ou end van die dag moet ons onthou dat die Bybel net jou lewe kan aanraak as jy hom lees. Die beste Bybervertaling vir jou is dus die een wat jy LEES!

Is dit okay vir ‘n Christen om gay te wees?

Deur Marianne van Zyl
Hierdie vraag is een waaroor mense baie emosioneel kan raak, en wat al vir baie mense baie pyn en hartseer veroorsaak het. Dit is ook ‘n saak wat dikwels baie swak hanteer word deur die kerk en deur Christene in die algemeen. As jy self iemand is wat worstel met homoseksualiteit, is die eerste ding wat ek wil sê dat God jou liefhet, so lief dat Jesus sy eie lewe gegee het sodat jy aan Hom kan behoort (Joh. 3:16). As die kerk of mense in die kerk jou in die verlede seergemaak het, hoop en bid ek dat jy in staat sal wees om verby die kerk te kyk na Jesus toe, en Hom steeds sal aangryp en sal volg, ten spyte van die seer wat Christene jou dalk aangedoen het. Ek wil jou egter ook aanmoedig en uitdaag om God en sy Woord ernstig op te neem, om jou kruis op te neem en vir Jesus te volg (Matt. 16:24), al kos dit jou ‘n duur prys. God het ons lief net soos wat ons is, maar Hy het ons te lief om ons te los net soos wat ons is…

Ek dink dit is baie belangrik om ‘n onderskeid te tref tussen geneigdheid, gedrag, en gewoontes. Daar is ‘n groot verskil tussen om geneig te wees tot iets (om ‘n behoefte of ‘n begeerte daarna te hê), en om te reageer op daardie behoeftes of om die gedrag te beoefen waarna jy ‘n begeerte het. Dan is daar ook ‘n verskil tussen om eenmaal of enkele kere iets te doen, en om van iets ‘n gewoonte te maak (dit gereeld te doen en dit dus ‘n lewenswyse te maak). Kom ons sê byvoorbeeld dat iemand ‘n neiging het om te steel, of dat hulle dikwels die begeerte het om iets te steel. As so iemand nooit op daardie begeerte reageer nie en dus nooit iets steel nie, is die neiging in hulle hart bloot ‘n aanduiding dat hulle, net soos AL die ander mense op aarde, ‘n sondaar is met sondige neigings. As daardie persoon wel op ‘n keer op daardie begeerte of neiging reageer en iets steel, dan is daardie gedrag verkeerd. Dit is sonde, omdat dit iets is wat deur God verbied word in sy Woord, en omdat dit nie God se wil is dat ons steel nie. As so ‘n persoon ‘n gelowige Christen is, iemand wat hulle geloof in Jesus Christus gestel het as die Een wat vir sy sonde se skuld betaal het, en hulle is spyt oor wat hulle gedoen het en wil probeer om dit nie weer te doen nie, kan hulle steeds in ‘n gesonde verhouding met God staan (1 Joh. 1:9). As die persoon egter ontken dat wat hulle gedoen het verkeerd (sonde) is, en hulle begin om op ‘n gereelde basis goeters te steel sonder om enige berou daaroor te hê, dan beweeg hulle al hoe verder weg van God af.

Dit is om die waarheid te sê hoe alle Christene se verhouding met God behoort te werk – ons het almal sondige neigings. Soms kry ons dit reg om hierdie neigings of begeertes te weerstaan, maar ons almal doen steeds op ‘n gereelde basis sonde. God vergewe ons sonde omdat Jesus daarvoor aan die kruis gesterf het en ons ons vertroue in Hom gestel het. As ons probeer om al minder sonde te doen, en ons is jammer as ons dit wel doen, groei ons in ons geloof. Ons kan meer soos Jesus word en ons bly sensitief vir sy stem en die leiding van sy Heilige Gees, sodat Hy ons in sy koninkryk kan gebruik. Maar as ons sê dat ons nie sonde doen nie, of dat ons sonde nie sonde is nie, dan jok ons vir onsself en aanvaar ons nie die waarheid nie (1 Joh. 1:8). Dan word ons harte al hoe harder vir die werk van die Heilige Gees, en ons dryf al hoe verder weg van God af. As ons sê dat ons sonde nie sonde is nie, maar net ‘n “ander manier van doen” wat ook aanvaarbaar is vir God, dan sê ons ook dat ons nie ‘n Verlosser nodig het nie, dat ons nie sondaars is wat nodig het dat Jesus vir ons sonde moes betaal het nie.
Die Bybel se voorskrifte oor seks kan opgesom word deur te sê dat seksuele omgang slegs behoort te gebeur tussen een man en een vrou wat in ‘n lewenslange verbintenis teenoor mekaar staan (‘n huwelik), en enigiets anders is sonde (sien ook ons artikel http://wiehetgodgemaak.co.za/se-die-bybel-enigiets-oor-seks-buite-die-huwelik-tussen-twee-mense-wat-vir-mekaar-omgee/). Die Bybel (in die Ou en die Nuwe Testament) maak dit baie duidelik dat seksuele omgang tussen twee mense van dieselfde geslag ook uitgesluit is uit die Bybel se model van waar seks hoort, en dus sonde is (Levitikus 18:22; 20:13; Romeine 1:26-27; 1 Korintiërs 6:9). Nou is dit so dat daar baie mense is wat seksuele behoeftes en neigings het wat hulle motiveer om dinge te wil doen wat nie binne die Bybel se model pas nie. Meeste tieners en ongetroude jongmense sukkel met seksuele versoekings en vra dikwels die vraag “hoe ver is te ver?” omdat hulle begeertes het om seksuele omgang te hê met iemand met wie hulle nie getroud is nie. Baie getroude mense sukkel ook soms met die versoeking om ‘n seksuele verhouding te hê met iemand anders as hulle huweliksmaat. En dan is daar ook mense wat die behoefte of begeerte het om met mense van dieselfde geslag seksueel intiem te wees. Om ‘n geneigdheid, ‘n behoefte of begeerte te hê is nie opsigself sonde nie, soos ek reeds hierbo verduidelik het. Maar as ‘n mens kies om op daardie begeerte te reageer en die gedrag te beoefen wat die Bybel verbied, is jy wel besig om sonde te doen. Dit beteken dat jy besig is om teen God te rebelleer. Dit beteken NIE dat jy daarom summier hel toe gestuur gaan word, of nie meer ‘n Christen is, of uit die kerk uitgesmyt behoort te word nie. Maar as jy besluit om op die langtermyn met hierdie gedrag aan te hou, as jy dit wil herdefiniëer en wil sê dat dit nie sonde is nie, en jy het geen berou daaroor of geen intensie om op te hou daarmee nie, dan is jy besig om jou rug op God te draai. Dan is die rigting waarin jy oppad is een wat wegstap van God af, nie nader groei aan Hom nie.

Ek probeer nie sê dat dit maklik is om hierdie versoekings te weerstaan nie. Hoewel daar (ten spyte van baie jare se pogings) nog nooit iets soos ‘n “gay geen” ontdek is nie, is daar wel navorsing wat dit laat lyk asof mense om fisiologiese redes ‘n neiging kan hê om tot mense van dieselfde geslag aangetrokke te voel. Maar om te bewys dat iemand ‘n aangebore of fisiologiese neiging het, is nog lank nie om te bewys dat hulle sekere gedrag nie kan help nie. Heteroseksuele mense het ook fisiologiese en aangebore geneigdhede om dinge te doen wat nie volgens God se wil is nie. Die Bybel maak dit duidelik dat ons ALMAL sondige begeertes het (Romeine 3:23; 7:15-16), maar die Bybel sê ook dat God ons sal help om versoekings te weerstaan ( 1 Kor. 10:13). As jy ‘n Christen is wat jou vertroue in Jesus gestel het as die Een wat jou verlos, dan het jy die Heilige Gees (1 Joh 4:2), en dan sal die Heilige Gees aanhou om jou te help om te groei in jou geloof en versoekings te weerstaan. Hy verander ons al meer om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Kor. 3:18).

As jy worstel met seksuele sonde, moenie hierdie “fight” alleen probeer aanpak nie. Jy het die Here en sy Heilige Gees nodig in die eerste plek, maar jy het ook ander gelowiges nodig om jou te ondersteun, aan te moedig en jou verantwoordbaar (accountable) te hou. Praat met iemand wat jy kan vertrou oor jou stryd en moenie moed opgee nie, sodat jy ook eendag, soos Paulus kan sê “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.. 2 Tim 4:7-8 (OAV)”

Is dit verkeerd om met iemand (waarmee jy 10 teen 1 eendag gaan trou) verder te gaan as ‘n gewone piksoen soos bv. vry en verder, maar nie seks self te hê nie?

Deur André van Zyl
Dit is ‘n uitstekende vraag en ‘n baie belangrike een. Waarskuwing: Hier kom nou “te veel detail”, ek gaan nou baie reguit wees, maar ek dink dit is nodig. Eerstens is seks BAIE meer as net penetrasie. Kom ek verduidelik dit aan die hand van om reeds getroud te wees. Hoe sal ek daaroor voel as my vrou ‘n ander man se hand op ‘n romantiese manier vashou? As sy hom sou soen? En wat van nog meer? Ek kan jou sê, dit sal my BAIE ontstel!!!!!!! Hoekom sou dit my so ontstel, dit is dan nie “seks” nie??? Jy sien, dit is die geheim, dit is juis reeds die begin van seks… om die waarheid te sê is enige fisieke aktiwiteit met seksuele ondertone reeds ‘n deel van en ‘n vorm van seks. Ek is redelik seker jy is verbaas oor my opinie. Wat ek nie besig is om te sê nie is dat ek dink mens mag glad nie aan mekaar vat nie. Ek dink romantiese verhoudings mag en moet selfs fisiese kontak insluit. Dit is egter ‘n baie brose en gevaarlike ding om mee te speel. Baie mense sien penetrasie as die “lyn” en enige iets kort van die lyn is oukei voor mens trou. Ek kan uit ervaring vir jou sê dit is nie waar nie. Die seksuele is ‘n rigting wat mens inslaan en nie ‘n lyn nie. Dit is of die rigting van disrespek, wantroue, seerkry en sonde of die rigting van vertroue, veiligheid, heelheid en die beste seks in die wereld ooit. Mens moet ‘n rigting kies en daarby bly. Laat ek net duidelik sê ek dink seks is BAIE goed en die Here het dit uitgedink, maar soos ander goed wat Hy uitgedink het en wat goed is (soos vuur) kan dit BAIE groot skade doen ook. Ek en en my vrou het tot ‘n baie groot mate die seksuele en ons liggame vir mekaar gebêre (ek weet dit is overshare, maar jy wou mos vra ;-). Ons sal beide vandag vir jou sê daar is nie EEN ding wat ons voor die huwelik weggegee het op seksuele gebied waaroor ons bly is nie en ook nie EEN ding wat ons vir die huwelik gehou het waaroor ons spyt is nie. Die beste ding wat mens kan doen is om soveel as wat jy kan vir die huwelik te bere. Dit is die veiligste en intiemste plek op aarde en seks is op sy heel beste (sê alle navorsing ook vir ons) as dit net daar tussen net twee mense gebeur. Die Here weet die beste en as hy seks tot die huwelik beperk is dit nie omdat hy ‘n “spoilsport” is nie maar omdat Hy die beste weet en omdat hy BAIE lief is vir ons as mense.

Oor jou laaste vraag (wat eerste was) van wat dan as mens voor die huwelik seks het en dan trou, maak dit die seks oukei? In Job en nog so plek of twee in die Bybel word daar van buite huwelikse seks as “diefstal” gepraat. Jy steel van die ander persoon en die persoon se uiteindelike huweliksmaat en jy wys nie respek, liefde of betroubaarheid vir die ander persoon nie. Hoekom noem ek dit? As jy iewers werk en jy “leen” geld by die maatskappy met die eerlike bedoeling om dit later terug te gee, waarmee is jy besig? Wat sal die hof oor jou sê? Dit is bedrog en diefstal en al sou jy die geld teruggee sal jy aan beide skuldig bevind kon word. Waarom? Want jy vat iets wat nie (of nog nie) joune is nie wanneer dit jou nog nie toekom nie. Selfs as jy in die winkel iets in jou sak sit voor jy betaal het met die doel om nog te gaan betaal is jy skuldig aan “shoplifting”. Die “intensie” om die regte ding te doen of selfs om later die regte ding te doen maak jou nie onskuldig aan wat jy gedoen het voor jy die reg gehad het nie. Om die waarheid te sê wys navorsing dat mense wat seksueel aktief is voor hulle trou dikwels vertroue issues in hulle huwelik het (hulle kon mekaar dan nie eers voor die huwelik vertrou nie) en dat dit selfs soms met buite egtelike verhoudings verbind kan word. In my eie ervaring ken ek NIEMAND wat na die tyd bly is daaroor dat hulle voor hulle huwelik seks gehad het nie, nie eers met mekaar nie. Ek ken BAIE mense wat dit wel gedoen het en hulle is almal spyt daaroor. Seks voor die huwelik is verkeerd en doen skade aan beide partye en die verhouding.

Sê die Bybel enigiets oor seks buite die huwelik tussen twee mense wat vir mekaar omgee?

Deur André van Zyl
As ek jou reg verstaan is jou vraag oor of die Bybel iets sê oor voorhuwelikse seks en of dit dan verkeerd is. Dit is ‘n BAIE goeie en relevante vraag waarmee meeste jong (en ouer) mense soms worstel. Ek gaan twee punte maak in hierdie artikel vanuit ‘n Christelike perspektief.

Eerstens dink ek dit is belangrik om te besef dat wette oor die algemeen nie probeer om elke moontlike gedrag in detail te beskryf nie. Oor die algemeen gee wette ‘n vaste standaard en dit beteken alle ander opsies (al word hulle nie by die naam genoem nie) is uitgesluit. So sit die regering 60 bordjies langs voorstedelike paaie op en dit stel die absolute standaard. Enige iets meer as 60 oortree die wet, hulle hoef nie elke spesifieke ding by die naam te noem nie. Die Bybel maak dit duidelik dat seks iets BAIE goed is en dat die Here geheel en al ten gunste van seks is, maar dat seks net op EEN plek hoort en dit is binne die huwelik tussen een man en een vrou. Soos mens net vuur maak in die kaggel en nie op die sitkamervloer nie, is seks baie goed in die huwelik, maar baie skadelik daarbuite. In die Bybelse tyd was daar nie iets soos rekreasionele seks (met ander woorde seks net vir die lekker) nie, want geboortebeperking het nie bestaan nie en dus kon alle seks tot babas lei. Vrouens was ook nie mans se gelykes nie en hulle was basies mans se besittings (dit is te kras, maar jy kry die idee). Dus was daar NET drie moontlikhede in die Bybel. Eerstens kon jy met ‘n vrou trou en dan seks met haar he binne die huwelik. Daar was ‘n bruidskat betrokke wat die man aan haar pa moes betaal voor hy met haar kon trou en eers dan kon hy met haar seks hê. Dus was dit ALTYD seks na die huwelik. Tweedens kon die man betaal vir seks en ons noem dit steeds vandag prostitusie. Laastens kon ‘n man met ‘n vrou seks hê sonder om getroud te wees (gewoonlik onder dwang). Dit was ‘n HUGE issue en beide die man en die vrou kon doodgemaak geword het vir wat hulle gedoen het. Daar was egter een moontlikheid en dit is as die jong man en vrou dit kon onderhandel, sou die samelewing hom toelaat om dan maar die bruidskat te betaal en met haar te trou. Daar was egter steeds strawwe en HUGE skande betrokke. Dus was dit ‘n baie groot taboe en het BAIE min gebeur. Die Bybel praat dus nie van rekreasionele seks nie, want dit was nie ‘n opsie nie en het nie bestaan nie, maar is per definisie uitgesluit.

Die tweede ding wat ek sal wil sê is dat seks geheel en anders as ander “rekreasionele” of ontspanningsaktiwiteite (soos bv draf) is. Beide is fisiese aktiwiteite, maar die een is GEWELDIG baie meer waardevol en intiem as net ‘n blote fisieke aktiwiteit. Seks is ontwerp om twee mense die mees intieme en veilige ervaring te gee wat vir enige twee mense moontlik is op aarde. Dit is ‘n aktiwiteit wat mense geestelik, emosioneel en fisiek aan mekaar vasbind op baie diep maniere. Dit is iets absoluut amazing en soveel meer as fisieke sensasie of aktiwiteit. Twee mense word aan mekaar “geplak” (emosioneel en geestelik) as hulle seks het en as mens hulle dan weer van mekaar losskeur doen dit geweldige skade (wat soms permanent is). Vir mans is dit meer fisiek (maar ook emosioneel en geestelik) terwyl seks vir vroue BAIE meer emosioneel is (maar ook fisiek en geestelik). Vrouens kry nog meer skade as mans as hulle buite die veilige omgewing van ‘n huwelik seks het. Soos mens se verhouding groei vat jy meer en meer verantwoordelikheid vir mekaar op alle vlakke. Net so behoort mens meer en meer verantwoordelikheid vir die ander persoon te vat soos wat jy fisiek in die verhouding vorder. Enige man wat by ‘n vrou seks wil hê sonder om aan haar die sekuriteit van ‘n vaste en permanente verhouding (‘n huwelik) te bied is besig om haar verkeerd en disrespekvol te behandel en is besig om te steel. As mens daardie vlak van fisieke intimiteit wil hê, vat dan die verantwoordelikheid om eers met haar te trou.

Ek weet mens kan nou sê, jy wil en gaan mos trou, so nou is dit oukei. Dit is egter interessant dat mense dit net met seks wil doen (en veral ons as mans). As ons egter ENIGE ander groot deal wil doen, wil ons eers ‘n getekende kontrak hê voor ons die item oorgee en as dit kan selfs die geld!! Ons soek dus “commitment” en nie net woorde nie voor ons iets waardevols oorgee, waarom dan nie met seks nie? Dit is iets waardevols en spesiaal, waarom net woorde? As mense wil seks hê, trou dan eers…

Hoe weet jy of iets ‘n teken van God af is?

Deur Marianne van Zyl
Het jy al agtergekom hoe ‘n mens soms in ‘n vertrek vol pratende mense iemand wat jy baie goed ken se stem kan uitken tussen al die ander? Ek dink dat dit met God se stem baie dieselfde is. As ons sy stem goed leer ken in stil tye saam met Hom, is dit gewoonlik makliker om in ‘n rowwe tye wanneer daar baie dinge aan die gang is rondom en binne-in ons sy stem te herken.

Hoe leer ken ek God se stem? Een baie goeie manier om te leer wat God te sê het, is om die Bybel te bestudeer. Die Bybel is ‘n ongelooflike waardevolle geskenk aan ons – dit is ‘n hele biblioteek vol boeke wat vir ons leer Wie God is, hoe ons ‘n verhouding met Hom kan hê, wat sy wil is vir ons lewens en wat sy plan is met die wêreld. Maak tyd om jou Bybel regtig goed te leer ken. As daar dan iets oor jou pad kom wat jou laat wonder of dit dalk ‘n teken is van God, kan jy dit vergelyk met dit wat jy reeds weet van God en sy wil. As dit in stryd is met sy Woord, dan kan jy maar weet dit is nie ‘n teken van Hom af nie. God sal byvoorbeeld nooit vir ‘n getroude man ‘n “teken” gee dat hy maar sy vrou kan los vir ‘n ander vrou nie, want dit is in stryd met sy Woord.

As jy in Jesus Christus glo as die Here van jou lewe, dan gee Hy ook vir jou sy Heilige Gees wat binne-in jou kom woon (1 Kor. 12:3) en jou wil lei oor hoe om jou lewe te leef. As ons luister na die Heilige Gees wat ons leer om te lewe soos wat God wil hê, word dit mettertyd makliker om sy stem te kan hoor. As ons Hom egter ignoreer wanneer Hy ons byvoorbeeld van sonde probeer oortuig dan word dit al hoe moeiliker om sy stem te hoor en te volg.

As iemand jou geloof aanval, verwag God dat jy dit moet verdedig?

Deur Marianne van Zyl
‘n Mens se reaksie op ‘n aanval op jou geloof sal waarskynlik moet afhang van die situasie. Twee belangrike opdragte wat Jesus ons gegee het toe Hy op aarde was was om ons naaste (alle mense wat oor ons pad kom) lief te hê soos onsself (Markus 12:31), en ook om mense van Hom te vertel en hulle sy dissipels te maak (Matteus 28:19-20). Die eerste ding wat ‘n mens dus altyd in gedagte moet hou wanneer iemand iets sê wat vir jou klink soos ‘n aanval teen jou geloof, is dat jy daardie persoon moet liefhê, en dat jou reaksie liefdevol behoort te wees. Dit beteken nie noodwendig dat jy enige konflik moet vermy of altyd net moet stilbly nie. Daar mag dalk situasies wees waar dit die beste ding sal wees om stil te bly, soos as die ander persoon geweldig emosioneel is (kwaad of hartseer) en glad nie kan luister wat iemand anders sê nie. Daar mag ook situasies wees waar jy wel iets moet sê, maar dan moet jy dit steeds op ‘n liefdevolle manier doen. Dit help nie om ‘n argument te wen maar die persoon met wie jy argumenteer op die manier te “verloor” nie.

Dink aan jouself as ‘n brugbouer – iemand wat brûe bou tussen God en ander mense. Jy moet deur hoe jy lewe, en deur wat jy sê dit vir ander mense makliker probeer maak om nader aan God te kom. In sommige gevalle mag dit dalk beteken dat jy vir ‘n lang tyd met iemand ‘n opregte vriendskap bou en vir hulle omgee en vir hulle bid, en dalk later die geleentheid kry om met hulle oor die Here te praat. In ander gevalle mag dit dalk wees dat jy nodig het om antwoorde te gee op moeilike vrae wat so ‘n persoon mag hê.

Die Christelike geloof is gebaseer op waarheid. Dit is nie net ‘n “weird” manier van leef en dink wat iemand op ‘n stadium uit hulle duim gesuig het nie. Die Bybel vertel vir ons ‘n klomp geskiedenis, dinge wat regtig gebeur het, en leer ons van Jesus, wat ‘n regte mens geword het en hier op die aarde gelewe het. Jesus se kruisiging en opstanding is nie net ‘n soort geestelike feëverhaal wat bedoel is om ons goed te laat voel nie, dit is iets wat werklik gebeur het. Om daardie rede kan ons die waarheid van ons geloof verdedig op ‘n redelike (“reasonable” of verstandige) manier. 1 Petrus 3:15-16 sê: “In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking [‘n redelike, logiese, of geloofwaardige antwoord] eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.” Hiedie verse sê ‘n paar belangrike dinge oor hoe ons brûe kan bou tussen ander mense en die Here. Ons moet God eer deur hoe ons lewe en ook deur hoe ons praat, ons moet met respek en nederigheid met ander mense praat, en ons moet onsself ook toerus om antwoorde te kan gee as mense ons sou uitvra oor ons geloof. Hierdie webblad se doel is ten minste deels om gelowige mense toe te rus om antwoorde te kan gee oor vrae wat mense oor ons geloof kan vra.

Sien ook die artikels http://wiehetgodgemaak.co.za/hoe-kan-ek-n-nie-christen-wat-weier-om-te-glo-oortuig-of-oorreed-om-te-begin-glo/ en http://wiehetgodgemaak.co.za/wat-kan-mens-n-ateis-antwoord-as-hy-vra-hoe-jy-kan-seker-wees-dat-god-waarlik-bestaan/ vir meer inligting oor hierdie onderwerp.

Vir ‘n effe meer komplekse maar uitstekende bespreking van hierdie kwessie, kyk ook gerus na http://www.antwoord.org.za/2015/10/dialoog-schmialoog/